Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC loof Kuba, Raúl Castro en nuwe president

Die ANC het opnuut ’n beroep op die regering van pres. Joe Biden van Amerika gedoen om met Kuba in gesprek te tree, alle sanksies teen dié land op te hef en die bande tussen Amerika en Kuba te herstel.

Lindiwe Zulu, voorsitter van die ANC se komitee oor internasionale betrekkinge, het dié beroep op die Biden-administrasie in ’n verklaring gedoen nadat Kuba se oudpres. Raúl Castro (89) verlede week die tuig neergelê het.

Oudpres. Raúl Castro en sy broer, oudpres. Fidel Castro, in 2001. Foto: Reuters

Castro, wat die afgelope 13 jaar president was, is deur Miguel Díaz-Canel (61) opgevolg.

Die betrekkinge tussen Suid-Afrika en Kuba is weer in die kollig ná die besluit van Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, om 26 ingenieurs uit Kuba na Suid-Afrika te laat kom om die land met sy waterinfrastruktuurprobleme te help.

Dit het tot groot omstredenheid onder baie mense gelei omdat daar groot getalle Suid-Afrikaanse ingenieurs is wat nie werk het nie.

Kuba was ’n jare lange bondgenoot van die ANC in sy vryheidstryd en daar is steeds goeie betrekkinge tussen hulle.

Zulu, wat ook minister van maatskaplike ontwikkeling is, het Castro as ’n pragmatis geloof. Hy het sy broer, Fidel, in 2008 opgevolg as hoofsekretaris van die Kommunistiese Party van Kuba en president van die land.

Sy het Kuba ook geloof vir die seepgladde manier hoe oorgang in dié land van die een president na die ander geskied – eers tussen Fidel Castro (1959 tot 2008) en nou tussen Raúl Castro en Díaz-Canel.

Miguel Díaz-Canel, die aangewese Kubaanse president, in 2015 in Havana, Kuba, saam met pres. Cyril Ramaphosa toe hy nog adjunkpresident was. Díaz-Canell was toe adjunkpresident van Kuba. Foto: Argief

Díaz-Canel is al in 2018 as sy opvolger aangewys.

“Ons wens Kuba ook geluk omdat hy uit sy pad gaan om onderdrukte mense oor die wêreld heen te help. Dit sluit in die vooruitgang wat hy maak in wetenskap en tegnologie, ondanks die inmenging van die Amerikaners en die onwettige sanksies wat deurlopend deur die wêreld en die Verenigde Nasies veroordeel word, ” sê Zulu luidens die verklaring.

“Lank lewe die revolusionêre gees van kameraad Raúl Castro en sy landgenote, die mense van Kuba.

“Lang lewe pres. Miguel Díaz-Canel!”

Die nuwe Kubaanse president is gebore anderhalfjaar nadat die Kubaanse revolusie op 31 Desember 1958 beëindig is en Fidel Castro kort daarna president geword het.

Meer oor:  Joe Biden  |  Lindiwe Zulu  |  Amerika  |  Kuba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.