Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-LP’s wat hulle oor OB uitlaat, ‘doen dit nie namens party’

ANC-LP’s wat hulle openlik uitlaat oor die lot van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), doen dit as individue en nie namens die ANC-koukus in die parlement nie.

Sinetemba Jakavula, woordvoerder vir Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep, het Maandag so gesê nadat verskeie ANC-LP’s met hul onlangse persoonlike menings daaroor laat blyk het in die ANC is erge verdeeldheid oor die aangeleentheid.

“Die ANC-koukus het nog nie amptelik standpunt ingeneem nie. So ’n standpunt sal net deur die hoofsweep gekommunikeer word,” het Jakavula bygevoeg.

Dit volg nadat adv. Bongani Bongo, senior ANC-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake, Maandag ook aan die geselsradiostasie 702 gesê het dat die OB “nêrens heen gaan nie”.

Volgens hom gaan “ons (ANC-LP’s)” nie stem vir die OB se verwydering nie omdat “ons bewus is van duistere magte wat haar uit wil hê.

“Dit gaan egter nie gebeur so lank as wat ons ANC-LP’s en -leiers in die land is nie.”

LP’s moet op 16 Maart in die Nasionale Vergadering (NV) besluit of ’n verslag met verdoemende bevindinge oor Mkhwebane, wat ’n onafhanklike paneel opgestel het, aanvaar moet word.

Dié verslag lui onder meer dat daar voldoende prima facie-bewyse bestaan dat Mkhwebane haar aan wangedrag en “volgehoue onbevoegdheid” in haar amp skuldig gemaak het.

As dit aanvaar word, baan dit die weg vir ’n amptelike parlementêre ondersoek teen Mkhwebane.

Die DA het verlede jaar die mosie teen Mkhwebane ingedien.

Thandi Modise, senior ANC-LP en speaker van die NV, het verlede week in die parlement gesê dat dit ’n “hartseerdag” sou wees as LP’s sou besluit dat die verslag nie verder deur die parlement ondersoek moet word nie, en dat so ’n besluit “die demokrasie in hierdie land in die skande sal steek”.

Intussen het Mervyn Dirks, nóg ’n ANC-LP, in ’n video op sy Twitter-blad gesê dat hy nie Mkhwebane se verwydering sal steun nie. Hy meen dit is net ’n “persoonlike aanval op die OB omdat sy baie magtige mense ondersoek het”.

Supra Mahumapelo, ANC-LP, voorsitter van die portefeuljekomitee oor toerisme en oudpremier van Noordwes, het in ’n ander Twitter-video aan joernaliste gesê dat die DA die “mosie wil gebruik om die ANC te verdeel” en dat Mkhwebane nie verwyder sal word nie.

Die spanning in die ANC oor Mkhwebane is Sondag ook verhoog toe Sunday Times berig het dat Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, ’n beroep op ANC-LP’s gedoen het om die verwyderingsproses teen te staan.

Dit volg nadat die ANC-vroueliga Vrydag ook ANC-LP’s versoek het om die DA se mosie te verwerp.

Magashule, Mahumapelo, Bongo en Bathabile Dlamini, ANC-vroueliga-president, is egter almal lede van die radikale ekonomiese transformasie- (RET) faksie in die ANC en ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma.

Fikile Mbalula, minister van vervoer en ondersteuner van pres. Cyril Ramaphosa, het Magashule Sondag op Twitter erg oor sy uitlatings gekritiseer deur onder meer te vra wie Magashule die mandaat gegee het om sulke uitlatings te maak.

Die OB-kwessie verdeel egter nie net die ANC nie. Dit verdeel selfs die opposisie. Die EFF, UDM en African Transformation Movement (ATM) het almal reeds aangedui dat hulle die verwyderingsproses teen Mkhwebane sal verwerp.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Pemmy Majodina  |  Ob  |  Openbare Beskermer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.