Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-LUR hef 2 van DA se skorsing op

Die DA hou vol Lebogang Maile, Gautengse LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake, het sy mag misbruik deur by die sake van die Tshwane- en Johannesburg-metroraad in te meng.

Maile se kantoor het Maandag in ’n verklaring bekend gemaak hy het besluit om sy skorsing van die DA-raadslede Katlego Mathebe, Tshwane se speaker, en Vasco da Gama, voormalige speaker van Johannesburg, terug te trek.

Christo van den Heever, hoofsweep van die Tswhane-metroraad, en Katlego Mathebe, die speaker. Foto: Isabel Venter

Maile het verlede Donderdag hul skorsing aangekondig omdat hulle volgens hom die etiese gedragskode vir raadslede oortree het deur onder meer demokratiese prosesse te dwarsboom en in eiebelang op te tree.

Hoewel Maile, ’n ANC-raadslid, ontken die skorsing is om politieke redes gedoen, meen John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, Maile wou daardeur juis die DA in Tshwane en Johannesburg ontwrig.

“Ons hou vol dat die optrede van die LUR onwettig is en dat hy sy kantoor as LUR misbruik het om vir politieke redes die DA in Tshwane en Johannesburg swart te smeer,” sê hy.

Steenhuisen wil nou die DA-raadslede in die Gautengse wetgewer vra om Maile se optrede te bekyk en te bepaal of daar ’n klag teen hom aanhangig gemaak moet word.

“As hy (Maile) regtig omgee oor dienslewering moet hy eerder by sy mandaat hou en nie by ander sfere van die regering inmeng nie,” sê hy.

Maile kon nie Maandag vir kommentaar bereik word nie. Luidens die verklaring deur sy kantoor sal hy Dinsdag op ’n mediakonferensie oor die kwessie praat.

Mathebe en Da Gama sê die besluit om hul skorsing op te hef bevestig dat Maile verkeerd opgetree het.

Lebogang Maile Foto: Christiaan du Plessis

Hoewel die DA sy beheer oor Johannesburg einde 2019 verloor het, klou die party nog aan sy mag in Tshwane vas.

Raadslede van die EFF en ANC in Tshwane het al op twee raadsvergaderings van Mathebe en ander DA-raadslede deur wantrouemosies ontslae probeer raak.

Mathebe, asook Da Gama, het by navraag gesê hulle is bly om nou weer in hul poste te wees.

“Ek wil die mense van Tshwane dien. Ek is geensins van plan om die mense van Tshwane af te skeep nie,” sê Mathebe.

Da Gama sê Maile was verlede jaar baie betrokke by die proses waarin die DA sy beheer oor Johannesburg verloor het. Maile het al op vorige geleenthede gedreig om die twee metro’s onder administrasie te plaas.

Intussen het Cope in ’n verklaring Maile se besluit om die raadslede te skors, en dit ’n paar dae later terug te trek, as ’n “verleentheid en ’n skande” beskryf.

“Die LUR Maile en die ANC moet nou hul kop in skaamte laat sak, want dit is duidelik hulle wou mag deur die agterdeur, en op ’n onwettige wyse, bekom,” lui die verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.