Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-lys: Cyril se ‘balanseer-toertjie duur voort’

Pres. Cyril Ramaphosa moet steeds ’n balanseertoertjie doen tussen die verskillende faksies in die ANC nadat oudpres. Jacob Zuma se belangrikste luitenante die ANC se lys van kandidate vir die parlement gehaal het, het politieke ontleders Vrydag gesê.

Die ANC het Vrydag die name op sy kandidatelys vir die parlement en provinsiale wetgewers bekend gemaak nadat hy die lys Woensdag aan die Verkiesingskommissie oorhandig het.

Sleutelfigure in die Zuma-administrasie wat onder ’n wolk van bewerings van staatskaping is en diegene wat die middelpunt is van die bewerings dat die staat se intelligensiedienste gemanipuleer is om die politieke belange van faksies te bevorder, het die lys gehaal.

Die politieke ontleder prof. Shadrack Gutto sê weens die ANC se eenheidspakt op sy Nasrec-konferensie moet Ramaphosa steeds ’n balanseertoertjie doen wat ’n demper plaas op die veranderings wat hy in die ANC se interne politiek wil aanbring.

Supra Mahumapelo: uit.Foto: Susan Cilliers

“Dit kan wees dat oudpres. Jacob Zuma inderdaad nog invloed het. Dit is die enigste kompromis wat Cyril kon aangaan ten einde te oorleef. Dit is om hulle op die lys te hou totdat hulle verkies is,” sê Gutto.

“Hy het geen invloed op die lyste nie, hy kan net sy prerogatief in kabinetskommelings gebruik. Ek dink steeds dit sal vir hom moeilik wees om die soort veranderings te bewerkstellig wat hy beplan.”

David Mahlobo, Zuma se voormalige minister van staatsveiligheid, en Supra Mahumapelo, ’n stoere Zuma-lojalis, is op die lys. So ook Mosebenzi Zwane en Nomvula Mokonyane, wat in die kollig by die kommissie van ondersoek na staatskaping was.

Collen Maine, die ANC-jeugliga se president, en Bathabile Dlamini, president van die ANC-vroueliga, wat groot kampvegters was vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma om president van die ANC te word, is op die lys, asook Malusi Gigaba.

Nomvula Mokonyane
Nomvula Mokonyane Foto: Morapedi Mashashe

Maar sleutelondersteuners van Ramaphosa, soos onder andere Bheki Cele, Senzo Mchunu, Mondli Gungubele, Pravin Gordhan, Blade Nzimande en Zizi Kodwa is ook op die lys.

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, het Woensdag die insluiting van die omstrede name op die lys verdedig omdat hulle “nog nooit van ’n misdaad aangekla is nie”.

Die politieke ontleder prof. Bheki Mngomezulu sê net soos Ramaphosa in sy vorige kabinetskommelings gedoen het, waar hy van Zuma se bondgenote moes behou, sal hy steeds ’n balanseertoertjie moet doen.

“Faksies sal nooit verdwyn nie. Op pad na Nasrec was die verdelingslyne duidelik. Die president bevind hom tussen die hamer en die aambeeld.

“Hierdie mense is deur die takke benoem en daar is baie min wat hy kan doen. Hy het nie genoeg tyd gehad om sy eie span buite die Zuma-administrasie bymekaar te maak nie.

“Hy moes weer eens aan die party gehoor gee en die probleme duur voort,” sê Mngomezulu.

Meer oor:  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.