Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-lys wys ‘party luister nie na die mense’

Al verskyn ANC-lede se name op die lyste om die party ná die Mei-verkiesing in die parlement en die provinsiale wetgewers te verteenwoordig, beteken dit nie hulle is geregtig op ministeriële poste nie.

Dít was Vrydag die boodskap van die ANC toe hy sy kandidate vir die parlement en die nege provinsies aan die media beskikbaar gestel het. Die lys is vroeër vandeesweek by die Verkiesingskommissie (OVK) ingedien.

Minstens een politieke kenner het egter dié versekering van die ANC beskryf as ’n “desperate poging” deur die party wat daarop gemik is om openbare kommer oor die lyste te besweer.

Adj.pres. David Mabuza

Pres. Cyril Ramaphosa is soos verwag eerste op die lys, gevolg deur adj.pres. David Mabuza, Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma en Ronald Lamola, lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Feitlik al die NUK-lede sowel as lede van Ramaphosa se huidige kabinet verskyn op die lys. Fikile Mbalula, wat die ANC se verkiesingsveldtog lei, is sesde, gevolg deur Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en Bheki Cele, minister van polisie.

Sommige huidige en voormalige ministers wat by staatskaping en ander ongerymdhede betrek is, se name verskyn egter ook op die lys. Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, beklee die tiende plek, terwyl Bathabile Dlamini, oudminister van maatskaplike ontwikkeling en nou minister van vrouesake in die presidensie, op no. 14 is. Malusi Gigaba, oudminister van binnelandse sake, is op no. 23 en Mosebenzi Zwane, oudminister van mineralebronne, op no. 75.

Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, is op no. 58. Tina Joemat-Pettersson, oudminister van energie, blyk ook op pad terug te wees na die Nasionale Vergadering. Sy is op no. 74, terwyl Derek Hanekom, minister van toerisme, die 95ste plek beklee.

Zizi Kodwa, voormalige nasionale woordvoerder van die ANC, is op no. 31.

Onder ministers wat redelik laag op die lys is, tel Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye (124), Michael Masutha, minister van justisie (131), en Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling (137).

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma.

Minstens 20% van die kandidate op die lys is jong mense wat “nuwe energie en idees” na die parlement en die wetgewers sal bring. Onder hulle tel Collen Maine, president van die ANC-jeugliga, Njabulo Nzuza, sekretaris-generaal van die jeugliga, en Tasneem Motara (LP).

In ’n verklaring wat saam met die name gepubliseer is, neem die ANC kennis van kommer wat in die media geopper is oor sommige kandidate op die lyste, maar wys daarop dat alle ANC-lede onderhewig is aan die wette van die land en dat hulle grondwetlike regte geniet. Die blote feit dat mense in die openbaar by kwaaddoenery en korrupsie betrek word, maak nie daardie persoon skuldig nie tensy regmatige prosesse gevolg word.

“Alle kandidate was onderhewig aan ’n demokratiese proses deur takke. Enige arbitrêre verwydering van ’n kandidaat sonder dat regmatige prosesse gevolg word, kan in ’n hof uitgedaag word. Om op die lys te wees maak nie enige kandidaat geregtig op ’n uitvoerende pos nie. Alle ministers se termyne sal in dié termyn ten einde loop. Dit is die prerogatief van die president om ministers vir die sesde administrasie aan te stel,” lui die verklaring.

gwede
gwede

Ralph Mathekga, politieke kenner verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het by navraag gesê dié uitspraak van die ANC is ’n baie desperate poging om kommer te besweer wat in die openbaar oor die lyste bestaan. “Die ANC behoort te weet dat dit nie oor wettigheid gaan nie. Die mense op die lys is ’n weerspieëling van die waardes van die party. Hulle het ’n eie doel aangeteken omdat dié mense ’n swak punt in die ANC is. Dit is goed vir die opposisie omdat hulle nie veel werk hoef te doen nie.”

Die lys is volgens hom ’n weerspieëling van die gemoed in die ANC.

“Daardie gemoed is dat hulle nie na die mense luister nie. Natuurlik is die twyfelagtige mense op die lys nie skuldig bevind nie. As die president sê hy wil korrupsie beveg, maar dié mense word op die lys ingesluit om na die parlement te gaan, is die boodskap dat hulle nie na die mense luister nie.”

Meer oor:  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.