Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-manifes ontlok lof én kommer

Waarskuwings, maar ook lof vir die ANC se 2019-verkiesingsmanifes het Dinsdag uit politieke kringe opgeklink.

Veral twee aspekte van die manifes lok reaksie uit: ’n meer “aanpasbare monetêre beleid” vir die Reserwebank om by die “doelwitte van die tweede fase van die oorgang in te pas”, asook planne om dalk in die toekoms aan plaaslike batebestuurders van pensioenfondse voor te skryf oor hoe om hul geld te belê.

Die SAKP het Dinsdag in sy nuusbrief, Umsebenzi Online, gesê dit is belangrik dat die mandaat van die Reserwebank in pas gebring word met die doelwitte van die tweede radikale fase van die demokratiese revolusie.

Volgens die party voorsien die Grondwet nie dat die Reserwebank ’n “vryvloeiende mag” is nie.

“Terwyl die huidige Wet op die Reserwebank eenvoudig die bewoording van die Grondwet herhaal, is daar absoluut geen rede waarom die wet nie gewysig kan word om die ontwikkelingsverantwoordelikhede van die bank, waaronder werkskepping, duideliker te weerspieël en die streng nakoming van die beginsels van gebalanseerde en volhoubare groei te verseker nie.”

Alf Lees. Foto: Michael Hammond

Alf Lees, DA-LP, sê egter in reaksie: “Daar is meer rede as ooit om bekommerd te wees.”

“In werklikheid is voorgeskrewe bates net ’n uitbreiding van die onteiening van eiendom sonder vergoeding en net soos wat jou reg om grond te besit nie meer verseker is nie, beplan die ANC om nog eiendom van jou te onteien in die vorm van jou pensioen- en spaargeld,” sê Lees.

Wouter Wessels, VF-Plus-LP, sê die feit dat die nasionalisering van die Reserwebank ’n voorkeursaak vir die ANC is, behoort die waarskuwingsligte vir Suid-Afrika se demokrasie te laat flikker.

“Die ANC se verkiesingsmanifes skep onsekerheid oor die Reserwebank se onafhanklikheid in die toekoms. Soos met grondonteiening sonder vergoeding, is die nasionalisering van die Reserwebank ’n ernstige aanval op demokratiese beginsels.”

Theo Venter

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, meen dis onnodig om op kort termyn bekommerd te wees. Op lang termyn is dit egter kwessies waarna buitelandse beleggers kyk.

“Dit is nie dat die regering die geld van die pensioenfondse wil vat nie, maar hulle gaan voorskriftelik wees oor waar pensioenfondse hul geld moet belê. Wat is dit anders as ’n nuwe vorm van belasting? Dit sê eintlik die staat se huidige bronne van inkomste is te min en dat daar na alternatiewe bronne gesoek moet word wat nie lyk soos verhoogde belasting nie, maar wat prakties daarop neerkom.”

Ralph Mathekga, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), sê die kwessies spruit uit die resolusies van die ANC se 54ste nasionale konferensie by Nasrec.

Ralph Mathekga

“As jy kyk na Nasrec, was daar ’n groep wat radikaal was en ’n ander wat meer gematig was. So dit is nie ’n verrassing dat die manifes soos dubbelspraak lyk nie.”

Dit beteken dat die “heen en weer” en vaagheid oor staatsbeleid sal voortduur.

“Ons sal met die onsekerheid moet saamleef.”

As voorbeeld noem hy dat indien pres. Cyril Ramaphosa nie daarvan sal kan wegkom om sekere grond sonder vergoeding te onteien nie, hy elders politieke wins sal maak. Alles sal egter afhang van die magsbalans in die party ná die verkiesing, sê Mathekga.

Meer oor:  Wouter Wessels  |  Theo Venter  |  Ralph Mathekga  |  Alf Lees  |  Vf-Plus  |  Anc  |  Da  |  Sakp  |  2019-Verkiesing  |  Politiek  |  Verkiesingsmanifes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.