Die ANC, wat reeds in ’n finansiële verknorsing is, moet nou meer as R100 miljoen opdok om ’n maatskappy te betaal vir 30 000 verkiesingsplakkate wat aan die party verskaf is.
Dit kom nadat die ANC sy appèl teen ’n bevel van die hooggeregshof in Johannesburg met koste verloor het.
Die ANC het aangevoer die ooreenkoms tussen hom en Ezulweni Investments is nie deur Zweli Mkhize, die destydse tesourier-generaal, gemagtig nie.
Lees ook: 'Nie net ANC se beursie kry seer - sy beeld en aansien ook'
Die regspan van Renash Ramdas, eienaar van die KwaZulu-Natalse maatskappy, het aangevoer dat Nhlanhla Mabaso, finansiële bestuurder, die ANC verteenwoordig het in die verkiesingsveldtog toe hy mondelings ’n kwotasie van Ramdas namens die party aanvaar het.
Regter Urmila Bhoola het beslis die ANC het nie sy verpligtinge ingevolge die ooreenkoms nagekom nie.
Bhoola het gesê ’n mondelinge ooreenkoms is tussen die twee partye gesluit om 30 000 plakkate te lewer, te installeer en dan te verwyder teen R2 900 per plakkaat vir die installasie en R70 per plakkaat wanneer dit verwyder sou word.
Volgens Bhoola het Ramdas sy verpligtinge ingevolge die ooreenkoms met die ANC nagekom om 30 000 plakkate te verskaf, te installeer en ná die verkiesing te verwyder.
Die ANC moet rente betaal teen 15% per jaar teruggedateer tot 9 Mei 2019, asook ’n bedrag van R2,4 miljoen teen 10,25% per jaar tot en met die datum van betaling.
Die ANC bevind hom in ’n finansiële verknorsing en kon nie in Oktober sy personeel by Luthuli-huis betaal nie.
ANC-werknemers het ook in Junie en Augustus hul salarisse later as gewoonlik ontvang.
Die oorbetaling van salarisse by die ANC het ook by die geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping onder bespreking gekom nadat dit wou voorkom dat Edwin Sodi, ’n sakeman wat in hegtenis geneem is, gevra is om geld aan die party te skenk wat geoormerk is om salarisse te betaal,
Sodi het aan die kommissie gesê die R3,5 miljoen wat hy aan die ANC betaal het, ’n skenking was en nie deel van korrupte aktiwiteite nie. Sodi se bankstate het die name van ANC-hoës soos Zizi Kodwa, Pinky Kekana, Paul Mashatile en Zweli Mkhize bevat.