Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-NUK oor Zuma: ‘Niemand belangriker as SA demokrasie’

Die ANC bly lief vir oudpres. Jacob Zuma, maar die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) sê die belange van ’n enkele individu mag nooit voorrang geniet bo die belange van die demokrasie óf dit in gevaar stel nie.

Jessie Duarte, waarnemende sekretaris-generaal van die ANC, het dié stelling Dinsdagoggend op ’n mediakonferensie ná ’n buitengewone vergadering van die NUK Maandag gemaak.

ANC
ANC-ondersteuners die naweek by oudpres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal. Foto: Mlungusi Louw

Zuma se aanvanklike weiering om gehoor te gee aan ’n bevel van die konstitusionele hof om hom vir tronkstraf van 15 maande aan te meld, asook die afgelope naweek se gebeure in Nkandla, was van die belangrikste sake wat op die aanlyn NUK-vergadering bespreek is.

Die NUK sê die onaanvaarbare gedrag die afgelope naweek in Nkandla – waar groot getalle ANC-lede opgedaag het om Zuma te ondersteun – sal ondersoek word. Daar sal teen alle oortreders opgetree word.

Dit sluit in diegene wat ANC-regalia verbrand het.

“Dit wat in Nkandla gebeur het, is nié ’n populistiese opstand nie, hoewel daar ANC-lede is wat daaragter sit.

“Die polisie het die plofbare situasie in Nkandla goed bestuur en bloedvergieting voorkom waar mense as 'menslike skilde' misbruik is.”

Dit pla die ANC dat die woorde “menslike skilde” gebruik is omdat dit die taal is wat terroriste gebruik.

Enige dreigemente en dade van geweld van waar ook al in reaksie op regs- en regterlike kwessies sal nie geduld word nie. 

Dit wat in Nkandla gebeur het, is nié ’n populistiese opstand nie, hoewel daar ANC-lede is wat daaragter sit.

Die NUK het sy kommer uitgespreek oor “teenrevolusionêre” oproepe tot geweld en selfs burgeroorlog, die paradering van gewapende groepe, die flagrante vertoning van vuurwapens, die afvuur van skote, en die optrede van sekere lede onder die banier van die Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA).

Hy meen die doel van die dreigemente van geweld deur lede van die MKMVA is om die demokrasie en sy kerninstellings te ondermyn, en dis teenrevolusionêr en niks anders nie as die optrede van verregses. Dit is ook ’n skandvlek op die trotse geskiedenis van Umkhonto we Sizwe (MK), wat vanjaar sy 60ste bestaansjaar vier.

Ramaphosa se opdrag

Duarte sê pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, het opdrag gegee dat die bewerings dat ANC-lede van oor die hele land na Nkandla aangery is, ondersoek word.

Die kantoor van die sekretaris-generaal en die provinsiale sekretariaat van die party in KwaZulu-Natal moet ondersoek instel en tugstappe doen teen dié organiseerders wat vir die aanhitsing van geweld en die oortreding van Covid-19-maatreëls verantwoordelik was.

“Die doelbewuste uitdaging van die Covid-19-maatreëls deur mense uit verskillende streke te laat saamkom, hou ’n wesenlike gevaar in dat die virus op groot skaal kan versprei,” sê die NUK.

Ace Magashule, die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, sal ook sy opmerkings in Nkandla aan die NUK moet verduidelik en sê wat hy daarmee bedoel het. 

Magashule, wat self op korrupsieverwante aanklagte teregstaan, het by Nkandla gesê sommige wil die ANC “vernietig”. Volgens hom moet ANC-lede dit nie toelaat nie en nie geïntimideer word nie.

In vraetyd het Duarte gesê die ANC sal aanhou om met Zuma in gesprek te bly. “ ’n Groep NUK-lede is aangewys om dit te doen omdat dit belangrik is. Hy (Zuma) is ’n oud-ANC-leier en ons is lief vir hom, daarom is daar geen rede waarom ons nie in gesprek met hom moet bly nie,” het sy gesê.

Die ANC ondersteun ook steeds die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping en raai almal aan om met die kommissie saam te werk.

‘Niemand wil tronk toe gaan’

Niemand wil tronk toe gaan nie. Daarom ondersoek Zuma elke moontlik regsopsie tot sy beskikking om te keer dat hy tronk toe gaan. Duarte sê sy hoop Zuma sal suksesvol wees met sy hofgedinge.

Die ANC het egter geen sê in hoe die regbank sal besluit nie en wil hom nie uitlaat oor die uitspraak van die konstitusionele hof dat Zuma hom aan minagting van die hof skuldig gemaak het nie.

Duarte sê die NUK het ook kennis geneem van “populistiese pogings” deur sommige mense om retrogressiewe en “opportunistiese etniese mobilisasie” teweeg te bring om hul eie doelwitte te bevorder.

Die NUK sê die ANC bly ondubbelsinnig verbind tot die Grondwet en die beskerming daarvan.

Die party glo steeds in die oppergesag van die reg en die onafhanklikheid van die regbank. Daarom sal die regbank te alle tye teen politieke aanvalle beskerm word.

“Die ANC ondersteun ook steeds die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping en raai almal aan om met die kommissie saam te werk.”

Meer oor:  Demokrasie  |  Zuma-Vonnis  |  Tronk  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.