Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC onttroon, DA-man Baai se nuwe burgemeester

Dreigemente dat die familie van die waarnemende stadsbestuur van die Nelson Mandelabaai-metroraad uitgewis gaan word, en die speaker wat by die raadsaal uitgeboender word, was Vrydag deel van die drama wat afgespeel het toe die ANC as regerende party in die metroraad ontsetel is.

Die verwydering van die ANC het die weg gebaan vir die verkiesing van Nqaba Bhanga, die DA se Oos-Kaapse leier, as nuwe burgemeester van die metro.

Bhanga is verkies ten tyde van ’n raadsvergadering wat langer as 11 ure geduur het. Die vergadering het om 10:00 begin.

Raadslede van die opposisie wat vasbeslote was om die ANC die trekpas te gee, het in die Veremarksaal en die stadsaal agtergebly, selfs nadat Buyelwa Mafaya, die speaker, ná 18:00 aangekondig het die vergadering is uitgestel.

Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse DA-leier, is dramaties as nuwe burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro aangewys.Foto: Argief

Mafaya het die raadsvergadering in trane uit die St. Georges-hospitaal se ongevalle-afdeling probeer uitstel.

Sy het in die hospitaal beland toe sy ongeveer 17:00 hardhandig deur drie onbekende mans uit die raadsaal geboender is.

Lees hier: Speaker uit vergadering 'ontvoer'

Dié mans, wat na bewering gewapen was, het haar ten aanskoue van geskokte raadslede rondgepluk. Sy is by die raadsaal uitgeboender.

Marlon Daniels van die Patriotic Alliance (PA) het toe oorgeneem en Mafaya ingelig dat die opposisie voortgaan met die verkiesing van ’n nuwe burgemeester in haar afwesigheid.

Die DA, ACDP, Cope, en die United Front het sy woorde beaam.

Lance Grootboom van die ACDP het aangekondig die opposisie het ’n kworum om met die vergadering voort te gaan, en die waarnemende stadsbestuurder, Mandla George, is dadelik ontbied.

Kort voor 20:00 het George die vergadering ingelig daar is regsadvies ingewin met die strekking dat Mafaya nie binne die reëls van die raad opgetree het toe sy die vergadering verdaag het nie.

Op aandrang van die ANC het George toe ’n tweede regsmening laat inwin.

Kort hierna het George kleinkoppie getrek en raadslede in kennis gestel dat sy familie dreigemente ontvang het. Hy het geweier om met die vergadering voort te gaan.

Dié nuus het Daniels die josie in gehad en hy het die ANC beskuldig dat hulle agter die dreigemente skuil. “Julle kan almal f***f,” het hy woedend gesê.

’n Verteenwoordiger van Cogta was in die raad, wat beteken het die vergadering kon voortgaan sonder George.

Daniels is om 21:10 formeel as waarnemende speaker aangestel. Hy het spoedig werk gemaak daarvan om die nuwe tydelike burgemeester volgens die reëls aan te stel.

Bhanga se aanstelling is nie betwis nie.

Omdat inwoners van die metro ingevolge die nuwe strenger Covid-19 reëls tuis moet bly, is Bhanga se aanvaardingstoespraak kortgeknip.

Raadslede het om 21:30 almal huis toe gejaag om die aandklokreël van 22:00 te eerbiedig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.