Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC, parlementslede vertrou nie meer amnestie-proses

Parlementslede vertrou nie meer die polisie met wapen-amnestie nie en bevraagteken die polisie se vermoë om sy voorgestelde amnestietydperk vir die inhandiging van ongelisensieerde vuurwapens te bestuur.

Dit was die mening van politici oor partygrense heen op Woensdag se oorsigvergadering van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se gekose komitee oor justisie en sekuriteit oor die polisie se voorgestelde wapenamnestie-proses wat van 1 Oktober tot 31 Maart volgende jaar sou duur.

Brig. Vishu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder.Foto: Netwerk24

Selfs die ANC het Woensdag teen die versoek geskop nadat senior polisielede glo ’n glo goed nagevorste voorstel hieroor aan die NRP voorgelê het.

Politici was ook ontevrede omdat nie Bheki Cele, minister van polisie, Cassel Mathale, adjunkminister, of Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, op die vergadering was nie.

So erg was die kritiek teen die polisie dat Shahidabibi Shaikh, voorsitter, dit moes uitstel omdat politici haar met vrae gepeper het.

Die ANC het op die vergadering met die DA saamgestem dat die polisie nie die vermoë het om vuurwapens te beveilig en te hanteer soos wat vereis word nie.

Volgens ’n notule van die vergadering het die ANC gesê amnestie word gekniehalter, want wapens waarmee misdade gepleeg word, kan nie ingedien word nie en dit is juis dié wapens wat die probleem is.

Uit ANC-banke is ook aangevoer dat polisiekantore so swak beveilig word dat hulle eenvoudig aangeval en van hul vuurwapens beroof word.

George Michalakis, DA-LP en lid van die Nasionale Raad van Provinsies. Foto: Netwerk24

George Michalakis, DA-LP en heeltydse lid van die NRP, het gesê die polisie word tans soos ’n misdaadsindikaat bedryf. Landsburgers kan die polisie nie vertrou nie en daarom kan hy ook nie die voorgestelde amnestieproses steun nie.

“Ek gee toe daar is baie goeie polisiemanne en -vroue, maar die publiek vertrou nie meer die polisie met ongelisensieerde vuurwapens nie omdat duisende wapens wat in ’n vorige amnestieproses ingegee is, verkoop is aan misdadigers wat dodelike gevolge vir die publiek gehad het.”

Michalakis het verwys na die 18 jaar tronkstraf wat kol. Christiaan Prinsloo in 2016 opgelê is nadat hy 2 400 vuurwapens van R9 miljoen uit polisiebewaring in Gauteng gesteel het en wat toe verkoop is.

Volgens Michalakis moet die NRP en die Nasionale Vergadering eers goedkeuring vir die polisie-voorstel gee voordat amnestie afgekondig kan word.

Hy sê dit is bykans onmoontlik dat die voorgestelde amnestietyperk sal realiseer, want die komitee wat die amnestietydperk moet goedkeur, vergader nie volgende week nie. LP’s is dan in hul tuisprovinsies. Die week daarna is dit reses en die daaropvolgende week moes die amnestietydperk al begin het.

Michalakis wou weet of amnestie misdaad laat afneem omdat wetsgehoorsame landsburgers, en nie misdadigers nie, hul wapens indien. Daar is skuiwergate in die Wapenwet wat eers getakel moet word vir die proses om suksesvol te wees.

Hy sê die Sentrale Vuurwapenregister, wat eienaarskap van vuurwapens aandui, is ook onder verdenking omdat die rekenaarstelsel al in duie gestort het.

* Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die meeste polisielede is hardwerkend en betroubaar, maar dit is ’n paar lede soos Prinsloo, wat veroorsaak het dat die komitee en die publiek vertroue in die polisie verloor het.

Die polisie moet nou hard werk om sy beeld as geloofwaardige instelling te herstel.

“Polisiekantore het veilige bewaringsplekke vir vuurwapens, en die polisie het so drie of vier maande gelede 30 000 ongelisensieerde vuurwapens vernietig en gaan dit binnekort weer doen.

“Dit word gereeld gedoen om seker te maak dié vuurwapens beland nie in die verkeerde hande nie.”

Meer oor:  Ongelisensieerde Vuurwapens  |  Polisie  |  Vertroue  |  Wapens  |  Parlementslede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.