Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC ‘pleeg politieke selfmoord’ – tradisionele leiers

Die ANC is met sy voortslepende faksiegevegte en verdeeldheid onder sy topleiers besig om politieke “selfmoord” te pleeg.

Dít is die gevolgtrekking waartoe Suid-Afrika se tradisionele leiers gekom het op ’n vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die kongres van tradisionele leiers (Contralesa).

Contralesa het Dinsdag die besluite van dié vergadering – waar die invloed van ANC-leiers “wat mekaar aan die keel beet het” en wat tot “anargie in die regering en die samelewing” kan lei in diepte bespreek is – bekend gemaak.

Dié leiers, wie se miljoene volgelinge landwyd tradisioneel ’n groot steunbasis vir die ANC in verkiesings is, dreig selfs om ’n ander politieke heenkome te vind.

Ace Magashule Foto: Melinda Stuurman

Dié ANC-binnegevegte en -verdeeldheid het die hoogte ingeskiet sedert pres. Cyril Ramaphosa en die ANC se NUK einde Maart besluit het dat alle ANC-lede wat in ’n hof van korrupsie en ander ernstige misdade aangekla word, binne 30 dae hul poste moet ontruim.

Spanning tussen ondersteuners van Ramaphosa en Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, word aangeblaas omdat dié opdrag Magashule regstreeks raak. Hy staan tans tereg op aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog.

Intussen het Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, Maandag nóg olie op dié vuur gegooi toe hy voor die Zondo-kommissie getuig het dat die ‘opsy staan’-besluit al dikwels in die verlede deur die ANC toegepas is. “Ek kan julle ’n lang lys van mense gee wat opsy gestaan het.”

Mantashe het ook ’n stelling van Magashule self ondersteun wat in ’n beëdigde verklaring voor die kommissie onder meer aanvoer dat ANC-leiers opsy moet staan van hul openbare poste as daar geloofwaardige bewyse van onetiese gedrag teen hulle is.

Die “opsy staan”-resolusie word volgens Mantashe dikwels toegepas, maar daar is net “groot belangstelling as die ANC-president en -sekretaris-generaal” betrek word.

Zolani Mkiva, hoofsekretaris van Contralesa, het Dinsdag in ’n verklaring gesê dié organisasie is “uiters teleurgesteld” in die ANC “veral omdat tradisionele leiers en hul volgelinge nog altyd deel was van die ANC-geleide massa-demokratiese beweging”.

Contralesa meen in plaas daarvan dat ANC-leiers verenig om saam die drukkende krisisse van die Covid-19-pandemie, die ekonomie, armoede, grondloosheid en werkloosheid in Suid-Afrika op te los, speel hulle eerder “politieke albasters met die lewe van ons mense”.

“Die ANC is besig om selfmoord te pleeg.”

Volgens Mkiva ignoreer die ANC versoeke om met Contralesa te vergader, maar is dit nie verbasend nie. “Hulle is so gefokus op selfvernietiging dat ons seker is dat hulle almal anders ook verontagsaam.”

Koning Mathupa Mokoena, Contralesa-president, het bygevoeg dat Suid-Afrika weens die ANC-binnegevegte op “autopilot” is en dat ’n “monumentale ramp vinnig nader kom”.

“Ons het twee keuses as landsburgers: maak gereed vir ’n ongeluk óf staan op en verhoed die ongeluk,” sê Mokoena.

Contralesa het besluit dat hy die ANC nie langer vir ’n vergadering sal “soebat” nie en eerder met ander progressiewe magte sal saamwerk om onder meer te verhoed dat Suid-Afrika ’n “mislukte staat” word.

Ons het twee keuses as landsburgers: maak gereed vir ’n ongeluk óf staan op en verhoed die ongeluk.

Prof. André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit en dr. Ntsikelelo Breakfast van die Nelson Mandela-Universiteit, was dit Dinsdag eens dat Magashule nie ná die 30-dae-tydperk sy pos vrywillig sal ontruim nie.

Duvenhage meen hy sal soos oudpres. Jacob Zuma, sy politieke bondgenoot, die berugte Stalingrad-taktiek, wat hofprosesse insluit, gebruik om sy “opsy staan” so veel moontlik te vertraag.

Magashule swyg tot dusver oor of hy sy pos sal ontruim en het vroeër gesê dat hy die 30 dae sal gebruik om oud-ANC-leiers, Zuma ingesluit, oor sy politieke lot te “konsulteer”.

Breakfast stem saam dat Magashule die howe as deel van sy veelvoudige ‘terugveg’-strategieë sal gebruik.

Meer oor:  Tradisionele Leiers  |  Opsystaan  |  Anc  |  Anc-Faksies  |  Contralesa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.