Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC praat reeds met kleiner partye oor Jhb

Die ANC het nie op hom laat wag nie en reeds met kleiner partye in gesprek getree oor moontlike samewerking in die Johannesburgse metro, met Herman Mashaba wat Maandag as burgemeester en DA-lid bedank het.

Maimane
Mmusi Maimane

Dada Morero, die ANC-sekretaris van die groter Johannesburg, het Maandag gesê die ANC het reeds die naweek met die IVP gepraat, in afwagting op Mashaba se bedanking.

“Sedert gisteraand (Sondagaand) praat ons met die IVP oor kwessies in Johannesburg wat albei partye raak.

“Dit is in ons belang dat Johannesburg slaag. Ons glo die party wat in beheer was van die koalisie het die stad laat agteruitgaan. Ons kan nie net op die kantlyn sit en verwag dat dinge vanself gaan gebeur nie.”

Mashaba se bedanking tree op 27 November in werking. Die bedanking spruit uit Helen Zille se verkiesing Sondag tot voorsitter van die DA se federale raad. Mashaba het ook voorspel dat die DA se koalisieooreenkoms met die EFF in Johannesburg in gevaar is, omdat Zille al kritiek gelewer het op die DA en EFF se samewerking in van die metro’s.

Mmusi Maimane, DA-leier, het ná Mashaba se aankondiging egter gesê die DA se koalisieooreenkomste met kleiner partye in die land se groot munisipaliteite moet behoue bly.

Vir die ANC om sy burgemeesterskandidaat verkies te kry, het hy 136 van die 270 stemme in die raad nodig. Die ANC het 122 setels, die DA 103 en die EFF 30. Die IVP het vyf setels, terwyl die UDM, ACDP, Cope en VF Plus met hul een setel elk ook deel van die koalisieregering is.

Ons het informele gesprekke met die ANC gehad, maar op niks ooreengekom nie.

Hoewel die IVP se verhouding met Mashaba by tye stram was, sê die party hy is steeds verbind tot die DA-koalisieregering.

“Ons het informele gesprekke met die ANC gehad, maar op niks ooreengekom nie. Ons is steeds verbind tot die koalisie (met die DA),” het Bonginkosi Dlamini, die IVP se Gautengse voorsitter, gesê.

Die EFF, wat ’n benadering volg van een kwessie op ’n slag en op dié manier saam met die DA in van die land se metro’s werk, sê daar moet nou eers interne gesprekke gevoer word oor wat die pad vorentoe gaan wees.

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, sê Mashaba se bedanking skep ’n goeie geleentheid vir die ANC. “Met Mashaba wat weg is, en die DA wat in ’n krisis gedompel is, is dit nou die geleentheid vir die ANC om ’n terugkeer te maak, dit is soos manna uit die hemel. As ’n mens na die getalle kyk, het die ANC die beste kans as die DA-koalisie in duie stort.”

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Ivp  |  Herman Mashaba  |  Johannesburg  |  Bedanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.