Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘ANC-regering is bang vir Malema,’ sê DA

Dit lyk of die ANC-regering bang is om teen Julius Malema, EFF-leier, op te tree “ondanks verskeie voorvalle van aanhitsing, dreigemente en retoriek rondom geweld teenoor die land se mense, sakeondernemings en nou ook die staat”.

So sê Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, nadat Malema die afgelope naweek dreigemente teen die polisie gemaak het.

Die EFF sê Malema se uitlatings is verdraai.

Whitfield het ’n beroep op Bheki Cele, minister van polisie, gedoen om Malema aan te kla van aanhitsing tot geweld teen die polisie.

AfriForum en Solidariteit het op hul beurt Woensdagoggend strafregtelike klagte van laster, sameswering vir die aanhitsing tot geweld en aanranding deur middel van dreigemente by die Lyttelton-polisiekantoor in Centurion teen Malema ingedien.

Julius Malema

Solidariteit sê meer as 1 000 polisiebeamptes het hom met kommer genader oor Malema se dreigende uitlatings.

Malema het Sondag sy ondersteuners in die Mohokare-munisipaliteit (Zastron) in die Vrystaat toegespreek en gesê

hulle is nie bang vir die polisie nie.

Hy het gesê die polisie is lafaards en hul uniforms laat hulle meerderwaardig optree. Die EFF sal polisielede

die stryd aansê “in hul eie huis, by hul gesin”.

Cele het Dinsdag gesê Malema se dreigemente sal nie ligtelik opgeneem word nie,

Die minister sê hy het met afgryse kennis geneem van Malema se “roekelose, onverantwoordelike en

gevaarlike” uitsprake.

“Ek dink die EFF-leier het die perk oorskry. Jy gaan nie die polisie dreig en dink dat hulle arms gevou sal staan nie.”

Die minister het ’n beroep op die polisie gedoen om hulself te beskerm en bygevoeg dat hy vol vertroue is dat hulle, indien nodig, “meer as in staat is daartoe” om hulself te verdedig, sou hulle aangeval word.

Die EFF het in ’n verklaring teruggekap en gesê Cele se uitlatings is niksseggend en “is bloot op die skare gemik”.

Hy sê die minister en die polisievakbond Popcru het sy verwerping van polisiegeweld teen betogers buite konteks gesien en gee voor die EFF dreig die land se wetstoepassers.

“Dit is ’n blatante leuen en ’n verdraaiing van die feite.”

Die EFF sê hy is sedert sy ontstaan ’n uitgesproke teenstander van polisiegeweld.

“Die opperbevelvoerder (Malema) het bloot die standpunt herhaal wat die EFF al lankal ingeneem het. Dit is dat die publiek se verdraagsaamheid met die polisie – wie se optrede baie lyk soos dié van die polisie in die dae van apartheid – tans op baie dun ys is.

“As ’n organisasie het die EFF nog altyd baie respek vir die oppergesag vir die reg gehad. Dit moet egter nie verkeerdelik gesien word as ’n goedkeuring vir verdrukking en die gebruik van staatsmasjinerie teen slagoffers wat opstaan teen die staat en ongeregtigheid nie.

“As die huidige regime die stemme van mense met uiteenlopende standpunte wil stilmaak met hul gewere, traangas en waterkanonne, sal ons hom regstreeks konfronteer,” sê die EFF in die verklaring.

Hy sal toesien dat daar geregtigheid is vir alle EFF-lede wat onlangs met die betogings by die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad deur die polisie “geskiet en mishandel” is.

Whitfield sê Cele se uitlatings is hol en dit is nie opgevolg met beslissende optrede nie. Meer as twee dae ná Malema se uitlatings het die minister nog niks daaraan gedoen nie.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, het in ’n verklaring van AfriForum en Solidariteit gesê dit is duidelik dat Malema steeds glo hy is bo die reg verhewe.

Meer oor:  Julius Malema  |  Andrew Whitfield  |  Da  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.