Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC sal doen wat hy wil, al sê Ramaphosa wat – Zille

Al bedoel pres. Cyril Ramaphosa dit wanneer hy sê hy is gekant teen die staat se voogdyskap van grond, kan dit nie meer op gesigwaarde aanvaar word nie.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, sê dit is omdat die ANC Ramaphosa eenvoudig sal ignoreer en voortgaan met grondhervorming soos hy gesê het hy sal.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad.

Sy het op Facebook gesê dat die ANC in sy jongste voorgestelde wysiging van art. 25 van die Grondwet amptelik staatsvoogdyskap voorstel.

Sy sê “staatsvoogdyskap” is net ’n ander manier om die nasionalisering van grond te beskryf.

“Die ANC probeer nou openlik toegee aan die EFF se eis van staatsvoogdyskap ten einde die nodige tweederdemeerderheid te verkry om die Grondwet te verander om onteiening van eiendom sonder vergoeding moontlik te maak,” skryf Zille.

Haar uitlatings is later die dag in ’n DA-verklaring deur dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, herhaal.

Prof. Dirk Kotze, politieke wetenskaplike aan Unisa, sê hy verstaan die ANC se voorstel anders as Zille en die DA.

“Dit klink vir my asof hulle sê dat alle grond nou onder staatsvoogdyskap geplaas moet word. Ek dink nie dit is die ANC se bedoeling nie.”

Annelize Crosby, grondhoof van Agri SA, het vroeër gesê wat dié organisasie pla, is dat dit onduidelik is wat die ANC in sy jongste voorstelle bedoel met “sekere grond” wat onder staatsvoogdyskap geplaas moet word.

“Dit kan enige grond wees, wat landbougrond insluit,” sê sy. Daarom is dit gevaarlik.

Die ANC het op sy vorige nasionale konferensie in 2017 by Nasrec in Johannesburg ’n besluit geneem dat onteiening sonder vergoeding moontlik moet wees om die grondhervormingsproses in die land te versnel.

Om art. 25 van die Grondwet te wysig, het die ANC ’n tweederdemeerderheid in die parlement nodig.

Kotze sê soos hy die ANC se jongste voorstel verstaan, sal net sekere grond onder staatsvoogdyskap geplaas word.

Kotze sê Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het dit al op verskeie geleenthede uitdruklik gestel dat haar departement eenvoudig nie die kapasiteit sal hê om alle grond onder voogdyskap te kan bestuur nie.

’n Groot gros van die grond wat deur die staat aangekoop word vir grondhervorming, is aanvanklik reeds in staatsbesit voordat dit later óf aan boere uitverhuur, óf aan hulle oorgedra word.

“Soos dit vir my klink, beskryf die ANC in sy nuutste voorstel die huidige situasie net meer eksplisiet.

“Ek sou sê die woord ‘voogdyskap’ is ’n afwatering van die idee van staatseienaarskap.

Die DA bly onverskrokke in sy teenkanting van die ANC se onderduimse poging om grond te nasionaliseer en Suid-Afrika te degradeer tot ’n ekonomiese woesteny.

“Ramaphosa en die ANC het dit al duidelik gemaak dat hulle nie ten gunste is daarvan dat alle grond in staatsbesit moet wees nie,” sê Kotze.

“Wat duidelik is, is dat die ANC probeer om ’n kompromie met die woord ‘voogdyskap’ voor te stel wat moontlik vir die EFF meer aanvaarbaar sal wees.

“Wat tans aan die gebeur is, is ’n proses van politieke ruilery tussen die verskillende partye.”

Omdat die DA dit al baie duidelik gemaak het dat hy gekant is teen onteiening sonder vergoeding, is die ANC se hooffokus tans op die EFF.

Maar as dié onderhandelinge uiteindelik misluk, sal die ANC waarskynlik probeer om die DA te oorreed om ’n ooreenkoms te bereik.

Die VF Plus is soos die DA gekant teen enige wysiging van art. 25 van die Grondwet.

Lotriet sê in die DA-verklaring hoewel alle getuienis wys dat staatsvoogdyskap nie werk nie, hou die ANC vol om ’n ideologie te volg wat ondergang bring.

“Die DA bly onverskrokke in sy teenkanting van die ANC se onderduimse poging om grond te nasionaliseer en Suid-Afrika te degradeer tot ’n ekonomiese woesteny.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Helen Zille  |  Grondhervorming  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.