Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC se agenda is om grond te nasionaliseer – VF+
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier. Foto: Deaan Vivier

’n ANC-standpunt dat die uitvoerende gesag – en nie die howe nie – die vergoedingsbedrag in gevalle van grondonteiening behoort te bepaal, is ’n “verskuilde agenda om grond in Suid-Afrika te nasionaliseer”.

Dit was Donderdag die reaksie van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, op die ANC-standpunt, en hy het dit as “onaanvaarbaar en ongrondwetlik” bestempel. Die party beoog om dit op “elke wyse moontlik” teen te staan en dit nie net in die konstitusionele hof te beveg nie, maar ook op internasionale vlak.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandag in sy afsluitingstoespraak van die ANC-lekgotla gesê het die regerende party is bemoedig dat die lekgotla die aanbeveling gesteun het dat die “mag om die bedrag vir onteiening sonder vergoeding te bepaal by die uitvoerende gesag moet lê”.

Dié standpunt strook nie met die voorgestelde wysigings aan art. 25 van die Grondwet, wat tans lui dat dit die taak van die howe en nie van die uitvoerende gesag is nie.

Enoch Godongwana, die ANC se hoof vir ekonomiese transformasie, het gesê die party wil grondonteiening “vereenvoudig”.

Die ANC het Woensdag op ’n mediakonferensie gesê die lekgotla steun die aanbeveling dat die uitvoerende gesag die mag moet hê om aspekte ten opsigte van grondonteiening sonder vergoeding te bepaal. Op ’n vraag oor of dié aspekte die bedrag van onteiening insluit, het Enoch Godongwana, die ANC se hoof vir ekonomiese transformasie, gesê die party wil grondonteiening “vereenvoudig”.

“Die besluit om grond sonder vergoeding te onteien, moet by die uitvoerende gesag bly sodat ons nie lang prosesse van onteiening het nie,” het hy verduidelik.

’n Parlementêre ad hoc-komitee is tans gemoeid met die wysiging van die Grondwet om vir grondonteiening sonder vergoeding voorsiening te maak.

Ingevolge die voorgestelde wysigings, soos vervat in die 18de Wysigingswetsontwerp op die Grondwet, moet sekere bepalings van art. 25 gewysig word om onder meer te lui dat ’n hof, waar grond of enige verbeteringe daarop vir die doelwit van grondhervorming onteien word, mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Nóg ’n voorgestelde wysiging is dat nasionale wetgewing onder meer die spesifieke omstandighede uiteensit waarin ’n hof mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Groenewald het gesê daar was reeds sowat 12 jaar gelede ’n poging om die Onteieningswet te wysig, wat die gesag om die vergoedingsbedrag te bepaal aan die minister sou gee, maar die ANC het tóé besef dit sou ongrondwetlik wees.

“Dit is dus onverstaanbaar dat die ANC nou daarmee wil voortgaan. Dit is ’n bewys dat onteiening sonder vergoeding slegs ’n verskuilde agenda is om grond in Suid-Afrika te nasionaliseer,” lui sy verklaring.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het soos die VF Plus gewaarsku dat dié stap die land na die voorgestelde Wetsontwerp op Onteiening van 2008 sal terugneem.

Dit moes destyds onttrek word omdat dit strydig met art. 25 was. “Nou is die ANC se plan om art. 25 te verander sodat dié beswaar nie meer geopper kan word nie.”

As dié verandering aan die konsepwysigingswetsontwerp aangebring word, sal dit volgens die IRV die grondslag van die skeiding van magte ondermyn.

“Dit sal ook die ANC se vasberadenheid bevestig om aan te hou om eiendomsregte af te splinter totdat dit die omvattende staatsbeheer oor grond verseker het . . .”

Francois Redelinghuys, kommunikasiebestuurder van Solidariteit, het op sy beurt gesê die ANC se “voortsetting om onteiening sonder vergoeding te kaap deur die proses in die president en sy kabinet se hande te plaas is onrusbarend.

“Dié uitlatings bewys weer eens dat die ANC se enigste prioriteit die verkryging van absolute mag is. Daarom moet onteiening sonder vergoeding ongekwalifiseerd teengestaan word, hetsy dié mag in die howe of die uitvoerende gesag gesetel is.”

Meer oor:  Pieter Groenewald  |  Vf Plus  |  Grond  |  Anc  |  Nasionalisering Van Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.