Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC sê DA én raadslid skuldig aan verkiesingsbedrog
Sheila-Lynn SenkubugeFoto: Argief

Die DA én Sheila-Lynn Senkubuge, dié party se burgemeesterskomiteelid vir vervoer in die Tshwane-metroraad wat weens ’n seksskandaal bedank het, ís skuldig aan verkiesingsbedrog.

Dr. Kgosi Maepa, ANC-koukusvoorsitter in dié raad, het Maandag op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê uit die beëdigde verklarings van Andrew Jansen van Vuuren en Lex Middelberg, twee voormalige DA-raadslede, is dit duidelik die DA se verkiesingskomitee en die leierskap in Gauteng-Noord het voor die plaaslike verkiesing van 2016 geweet Senkubuge is nie ’n Suid-Afrikaanse burger nie.

Jansen van Vuuren was in 2015 voorsitter van die DA se verkiesingskommissie in Gauteng-Noord, terwyl Middelberg tot 2016 ’n proporsionele DA-raadslid was.

Middelberg, wat nou voorsitter is van die Tshwane Money Matters Caucus, sê in sy beëdigde verklaring Senkubuge was volgens inligting wat hy van die departement van binnelandse sake bekom het, ’n Ugandese burger toe sy in 2011 in die land aangekom het. Sy het volgens hom eers in 2018 ’n Suid-Afrikaanse burger geword.

Kgosi Maepa, ANC-koukusleier in die Tshwane-metroraad in Pretoria, Maandag op ’n ANC-mediakonferensie in Pretoria.Foto: Sarel van der Walt

Maepa sê hoewel Senkubuge by die verkiesingskommissie (OVK) geregistreer is, weet ons nie hoe sy geregistreer is nie en dit moet ondersoek word.

“Die ANC maak nie beweringe as hy nie bewyse het vir wat hy sê nie. Ons siening is dat sowel Senkubuge as die DA verantwoordelik gehou moet word.

“Die DA het baie te verduidelik. Hy het almal mislei en boonop die verkiesingsproses ondermyn.

“As Senkubuge skuldig bevind word, moet sy al die geld wat sy sedert 2016 gekry het, terugbetaal,” het Maepa gesê.

Senkubuge het bedank nadat ’n bandopname aan die lig gekom het waarin daar glo gehoor kan word hoe sy en Stevens Mokgalapa, burgemeester, in ’n munisipale kantoor intiem verkeer.

Mokgalapa het intussen spesiale verlof geneem – iets waarmee die ANC ook erg ontevrede is.

Die OVK het vroeër in ’n verklaring gesê hy het voor die plaaslike verkiesing in 2016 reeds op grond van inligting van die departement van binnelandse sake bevestig Senkubuge is ’n Suid-Afrikaanse burger en kon daarom as ’n kandidaat daaraan deelneem.

Die departement van binnelandse sake het ook bevestig sy is ’n Suid-Afrikaanse burger, maar gesê hy ondersoek die saak.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het op ’n nuuskonferensie gesê volgens dié departement se rekords is Senkubuge, die kind van twee Ugandese, in 1984 in die eertydse Transkei gebore.

Middelberg sê in sy beëdigde verklaring hy het vasgestel Senkubuge se geboorte in Lady Frere in Transkei is eers in 1993 geregistreer.

Maepa het Maandag op die mediakonferensie gesê dit is duidelik Senkubuge het twee identiteitsdokumente met dieselfde geboortedatum, maar met twee verskillende identiteitsnommers.

“Ons weet ook amptenare van die Tshwane-metro het in 2017 aansoek gedoen vir ’n amptelike paspoort vir Sheila-Lynn Senkubuge, maar dit is van die hand gewys omdat sy nie ’n Suid-Afrikaanse burger was nie.

“Die vraag is of die DA doelbewus die feite geïgnoreer en bedrog toegelaat het toe hy haar in 2016 as een van sy kandidate vir die verkiesing geregistreer het.

“Het die DA ook die feit geïgnoreer dat sy deur naturalisasie in Augustus 2018 eers gekwalifiseer het vir ’n Suid-Afrikaanse identiteitsnommer en in Desember 2018 vir ’n paspoort?” het Maepa gesê.

Senkubuge se prokureurs het vroeër vandeesmaand in ’n prokureursbrief aan Maepa gesê sy beweringe oor haar is “lasterlike beweringe in die ergste graad”.

Fred Nel, ’n DA-lid van die Gautengse wetgewer wat voorsitter van die party se kandidate-komitee in die Tshwane-streek was, het by navraag gesê die DA het sy kandidate streng gekeur en was afhanklik van inligting van die OVK.

“Ons het ’n moontlike kandidaat afgekeur omdat hy ’n Zimbabwiër was en nie as kieser geregistreer was nie.”

Meer oor:  Aaron Motsoaledi  |  Kgosi Maepa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.