Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC se Harare-vlug: ‘G’n bewys dat ministers vergader het’

Die veelbesproke besoek van ’n ANC-afvaardiging in September aan Harare om dringend met die regerende Zanu-PF-party te gaan praat oor die krisis in dié land, is in verdere omstredenheid gedompel.

Dit blyk nou daar is geen bewys van ’n vergadering tussen Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en haar Zimbabwiese ampsgenoot, Opah Muchinguri-Kashiri, nie.

Die ANC-afvaardiging het met dié besoek saam met Mapisa-Nqakula in ’n Falcon 900-straler van die lugmag Zimbabwe toe gevlieg.

Mapisa-Nqakula, wat ook ’n lid was van die ANC-afvaardiging, het vroeër gesê sy was om amptelike redes in Harare omdat sy ’n afspraak met haar Zimbabwiese ampsgenoot gehad het.

Pres. Cyril Ramaphosa het bevestig hy het toestemming gegee vir Mapisa-Nqakula se besoek aan Muchinguri-Kashiri om die krisis in dié land te bespreek.

Hoe is dit moontlik dat daar geen notule van só ’n dringende en belangrike vergadering is nie?

Kobus Marais, DA-woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, sê ambassadeur Gladys Kudjoe, sekretaris van die departement van verdediging, het in ’n beëdigde verklaring bevestig daar bestaan geen notule van ’n vergadering tussen die twee ministers nie.

Die DA het ’n aansoek in dié verband ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia).

“Hoe is dit moontlik dat daar geen notule van só ’n dringende en belangrike vergadering is nie?” vra Marais in ’n DA-verklaring.

Hy wys daarop dat die vergadering glo so belangrik was dat die reëls wat in die ministeriële handboek neergelê word, verontagsaam is om die vergadering moontlik te maak.

“Dit is algemene gebruik dat vergaderings van ministers op internasionale missies opgeneem word. Boonop was dit so ’n belangrike vergadering wat binne enkele dae gereël is.

“Die enigste gevolgtrekking is dat ’n vergadering tussen die twee ministers nooit plaasgevind het nie, want die ‘ANC-rylopers’ was nooit in Zimbabwe vir staatsake nie. Hul enigste sake was in diens van die ANC.”

Die ANC-afvaardiging is gelei deur Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC.

“Die byeenkoms tussen die twee ministers was ’n powere poging om die belastingbetalers te mislei wat moes opdok vir die misbruik van staatsbronne,” sê Marais.

Hy sê die DA sal Kudjoe se beëdigde verklaring aan die polisie oorhandig. Die DA het vroeër ’n strafregtelike klag teen die ANC-afvaardiging by die polisie ingedien.

“Minister Mapisa-Nqakula het weer gewys sy kan nie vertrou word om aan die hoof van ’n belangrike departement soos dié van verdediging en militêre veterane te staan nie. Die beëdigde verklaring wys sy probeer haar spore uitvee. Dit is tyd dat sy pa staan vir haar optrede,” sê Marais.

Die DA wil hê Ramaphosa moet Mapisa-Nqakula afdank. Haar man, oudmin. Charles Nqakula is ’n veiligheidsraadgewer van die president.

Die byeenkoms tussen die twee ministers was ’n powere poging om die belastingbetalers te mislei wat moes opdok vir die misbruik van staatsbronne.

Mapisa-Nqakula vlieg gewoonlik met ’n Falcon 50-straler, wat die helfte minder passasiers kan vervoer.

Nadat die nuus oor die gebruik van die lugmagvliegtuig op die lappe gekom het, het Ramaphosa gevra Mapisa-Nqakula moet binne 48 uur aan hom verslag doen oor waarom die ANC-afvaardiging ook op die lugmagvliegtuig was.

Sy het in haar verslag aan Ramaphosa geskryf sy besef terugskouend sy moes die president se kantoor skriftelik in kennis gestel het dat haar ANC-kollegas saam met haar sou reis.

Die ANC het daarna erken dit was ’n fout om op dié “ongewone manier” na Harare te reis. Hulle het toe onderneem om te help betaal aan die koste.

Daar is later bepaal die ANC moet R105 000 bydra.

Die presidensie wou nie kommentaar lewer nie en het navrae na die departement van verdediging en militêre veterane verwys.

Die departement en die ANC het nog nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.