Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nee vir Zuma wat klou

Die ANC het met sy uiteindelike en onbeholpe herroeping Dinsdag van pres. Jacob Zuma as staatshoof die land meer verwar as gerusgestel oor wanneer hy uiteindelik sy pos gaan verlaat.

Eerstens is daar volgens Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, geen spertyd vir Zuma gestel om te antwoord op die herroeping gister deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) nie.

Magashule is Maandagaand laat saam met adj.pres. Cyril ­Ramaphosa, die ANC-president, na Zuma se ampswoning in Pretoria en het die boodskap oorgedra dat die NUK wil hê hy moet bedank.

Zuma het gesê hy sal bedank, maar wil nog drie tot ses maande staatshoof wees. Dis geweier.

“Ons het hom nie ’n spertyd gegee om op die herroeping te antwoord nie,” het Magashule gesê

 “Wanneer ons ons ontplooides herroep, verwag ons dat hulle dit sal aanvaar. Maar ons hanteer dié met dringendheid.”

Wanneer ons ons ontplooides herroep, verwag ons dat hulle dit sal aanvaar. Maar ons hanteer dié met dringendheid.

Volgens hom verwag hulle Woensdag ’n antwoord van Zuma.

Tweedens het Magashule op die mediakonferensie Dinsdagmiddag in Johannesburg om die herroepingsbesluit bekend te maak, gesê dit is onwaarskynlik dat die ANC-parlementslede sal stem vir ’n mosie van wantroue in Zuma wat deur die opposisie voorgestel is. Die NUK het nog nie gepraat oor die moontlikheid van ’n wantrouemosie nie.

“Jy kan nie in ’n party wees en mét ’n gewete stem (oor ’n wantrouemosie) nie.”

Mmusi Maimane, DA-leier, het Dinsdag gesê Zuma se herroeping het geen uitwerking op sy status as staatshoof nie en hy kan dit selfs verontagsaam. Die enigste manier om van hom ontslae te raak, is deur ’n wantrouemosie – wat die EFF wil laat vervroeg en waaroor uitsluitsel nog gekry moet word.

Die EFF het Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, reeds versoek om die wantrouedebat, wat vir 22 Februarie geskeduleer is, na dié week te vervroeg. Mbete het Dinsdag aangedui dat sy eers met Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, en adj.pres. ­Cyril Ramaphosa, in sy hoedanigheid as leier van regeringsake, daaroor wil raadpleeg.

As Magashule reg is, sal Zuma dié wantrouemosie dus oorleef.

Die rand het Dinsdag van 14:00 af vinnig verswak te midde van die onsekerheid oor presies wanneer Zuma uit sy amp gaan tree.

Die geldeenheid het sy sterkste vlak van die dag, R11,88 teenoor die dollar, bereik net toe die NUK-mediakonferensie oor ­Zuma se herroeping begin het.

Nadat Magashule gesê het ­Zuma is gevra om te bedank, maar dat hy dit nog nie amptelik aanvaar het nie, het die rand dadelik begin verswak. Teen 15:30 was dit net onder R12 per dollar – tog met tekens dat die grootste teleurstelling uitgewerk is.

Magashule het wel Dinsdag laat blyk dat Ramaphosa die staats­rede sal lewer, maar was vaag oor wanneer dit sal gebeur.

Ondanks die verwarring was daar verskeie tekens dat die druk op Zuma toeneem.

Die ANC se hoofsweep, Jackson Mthembu, het ’n dringende vergadering van die ANC-koukus in die parlement vir Woensdagoggend belê. Die NUK se besluit en die moontlikheid dat die ANC self ’n mosie van wantroue in Zuma sal indien, sal heel waarskynlik hier bespreek word.

Mbete het ook ’n spesiale vergadering vir alle partye se hoofswepe vir Woensdagoggend geskeduleer.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van kommunikasie, het Dinsdag hieroor gesê dat die regering bewus is van ontwikkelinge in die ANC.

Sy het Suid-Afrikaners egter verseker dat dienslewering nie daardeur geraak sal word nie.

Om sake vir Zuma te vererger, het adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, aangekondig dat hy die span aanklaers wat Zuma se vertoë moes assesseer oor waarom korrupsieverwante klagte in die sogenaamde spioenasiebandesage nie weer teen hom ingestel moet word nie, opdrag gegee om teen 23 Februarie hul aanbevelings te doen.

Abrahams sal daarvolgens besluit of hy weer aangekla sal word of nie.

Die ANC het Dinsdag op ’n nuuskonferensie by Luthuli-huis in Johannesburg aangekondig dat die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) na konsensus in ’n marathon-vergadering van byna 13 uur bereik is, besluit het om Zuma te herroep.

As dit beteken dat (die ANC) die EFF se mosie van wantroue (in Zuma, wat vir 22 Februarie geskeduleer is) moet ondersteun, dan moet dit gedoen word

Dit ten spyte daarvan dat Zuma se stoere ondersteuners in die NUK, soos Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal, en ander onverpoos tydens robuuste debatte in die dringende NUK-vergadering probeer het om Zuma se politieke loopbaan te red.Magashule het tydens Dinsdag se nuuskonferensie egter aangekondig dat daar geen spertyd aan Zuma gestel is oor wanneer hy moet antwoord op die NUK se besluit nie.

Hy het gesê Zuma sal Woensdag daarop antwoord. Dit nadat Zuma volgens gerugte botweg weier om as staatshoof te bedank en nog vir die volgende drie tot ses maande as staatshoof wil aanbly om onder meer sy werk as voorsitter by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) af te kan handel.

Zuma se weiering om te bedank is Dinsdag egter erg deur die ANC-alliansievennoot, Cosatu, veroordeel.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, het ’n beroep op die ANC gedoen om sou gou moontlik van Zuma as staatshoof deur middel van parlementêre prosesse ontlsae te raak.

“As dit beteken dat (die ANC) die EFF se mosie van wantroue (in Zuma, wat vir 22 Februarie geskeduleer is) moet ondersteun, dan moet dit gedoen word,” het Pamla gesê.

*Die presidensie het Dinsdagaaand laat ontken dat hy 'n SMS uitgestuur het oor 'n nuuskonferensie wat Woensdagoggend 10:00
gehou word.

'n Kommunikasiebeampte sê sy weet nie waar die SMS vandaan kom nie.

Sy sê die presidensie het geen kommunikasie oor 'n nuuskonferensie of 'n tyd uitgestuur nie en bygevoeg as dit gedoen word, sal dit deur die amptelike kommunikasiekanale gedoen word. – Llewellyn Prince, Philda Essop, Sarel van der Walt en Selloane Khalane 

Meer oor:  Politiek  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.