Die ANC het ’n vergadering tussen sy topses-leiers en oudpres. Jacob Zuma as “baie positief en opbouend” beskryf.
Die partyamptenare het virtueel met Zuma vergader nadat daar aanvanklik verwarring was oor of die vergadering in die party se hoofkantoor in Johannesburg sou plaasvind.
In Februarie het die ANC se nasionale uitvoerende komitee besluit die topses moet onder leiding van pres. Cyril Ramaphosa met Zuma praat oor sy besluit om die konstitusionele hof se bevel te verontagsaam dat hy voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping moet verskyn om te getuig.
Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het in ’n verklaring die vergadering Maandag bevestig.
“Die nasionale amptenare het baie positiewe en opbouende gesprekke met oudpres. Jacob Zuma gehad,” het hy gesê,
Mabe het nie gesê wat die uitslag was en of Zuma ingestem het om met die kommissie saam te werk nie.