Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC se top-6 vergader fisiek ná uitgelekte opnames
Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Argief

Die ANC se topses-leiers sal voortaan nie meer digitaal vergader nie, maar eerder fisiek bymekaarkom.

Dit is omdat die inhoud van te veel vergaderings van die ANC die laaste ruk uitgelek het, sê Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC.

Sy het Donderdagmiddag in ’n halfuur lange openhartige onderhoud met die SAUK gesê die opnames wat uitgelek het, het die topses se vermoë om openlik met mekaar te praat skade berokken.

Daarom sal hulle van Maandag af eerder weer persoonlik op vergaderings teenwoordig wees.

Ons kan net aan die mense van Suid-Afrika jammer sê. Die emosies het hoog geloop. Dit is nie ’n verskoning nie en dit wat gesê is, laat ons nie goed lyk nie.

Sy het ook verskoning gevra vir die skokkende taalgebruik in hierdie opnames van die onlangse vuurwarm vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK), waar besluit is dat Ace Magashule, die party se sekretaris-generaal, binne 30 dae opsy moet staan.

Die sterk taalgebruik was ’n teleurstelling en dit is later op die vergadering van die party se nasionale werkkomitee (NWK) bespreek, het Duarte gesê.

“Ons kan net aan die mense van Suid-Afrika jammer sê. Die emosies het hoog geloop. Dit is nie ’n verskoning nie en dit wat gesê is, laat ons nie goed lyk nie.”

Duarte was die laaste paar dae self in die nuus toe ’n opname van ’n uitlating wat sy op ’n vergadering oor oudpres. Jacob Zuma gemaak het, ook uitgelek het.

Hierin sê sy na haar mening moet Zuma nie voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping verskyn nie.


Dit was ’n private vergadering waarop ek die absolute reg het om my mening te lug. Die probleem is die opname is deur ’n snuffelaar (snooper) op só ’n manier aangepas dat dit op ’n bepaalde manier oorkom.


Duarte moes adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie, onlangs skriftelik verskoning vra oor ’n ander uitlating van haar oor die kommissie wat strydig met die standpunt van die NUK was.

“Ek het sterk menings en ek is nie bang om sê wat ek wil nie. Ek mag dit in die NUK, die NWK en die topses doen, want dit is die plek om dit te doen.

“Die amptelike standpunt van my organisasie is dat ons die Zondo-kommissie steun. Ek respekteer daardie standpunt, ongeag wat my persoonlike siening is,” sê Duarte.

“Wanneer ’n besluit geneem is, is dit my plig (as adjunk-sekretaris-generaal) om daardie besluit tot uitvoering te bring.”

Sy sê sy werk ten nouste met die kommissie saam en het persoonlik al drie voorleggings aangestuur waarvoor die kommissie gevra het.

Duarte sê sy het ’n vermoede waarom haar uitlating op die topses se vergadering uitgelek het.

“Dit word gedoen deur mense wat probeer wys dat ek deel van ’n bepaalde kamp (faksie in die ANC) is. Hulle doen dit omdat hulle nie suksesvol was om my in te trek nie.

“Ek ondersteun nie enige individue nie. Ek ondersteun die ANC.”

Duarte sê sy is nie ’n “handlanger” van Zuma, soos baie mense beweer, nie en ook niemand se lakei nie.

Ek dink eerlikwaar dit is mense wat die sekretaris-generaal steun wat dit doen. Ek dink nie dit is hy self nie, maar mense wat hom ondersteun en iewers in donker kamers sit.

In nóg ’n insiggewende uitlating sê Duarte die uitgelekte opnames van die NUK-vergadering was almal oor diegene wat ten gunste van Magashule gepraat het.

“Ek dink eerlikwaar dit is mense wat die sekretaris-generaal steun wat dit doen. Ek dink nie dit is hy self nie, maar mense wat hom ondersteun en iewers in donker kamers sit.”

Daar is nie spanning tussen haar en Magashule nie.

Omdat hulle mekaar al baie jare ken, praat hulle openlik en reguit met mekaar.

Duarte meen daar is iewers iemand “met baie geld” wat betaal vir “baie duur plakkate en busse wat allermins goedkoop is”.

’n Groep Magashule-ondersteuners – hoofsaaklik uit die Vrystaat, waar hy die premier was – het na Luthuli-huis in Johannesburg opgeruk en geëis dat álle ANC-leiers opsy moet staan.

Duarte meen daar is ’n groep mense wat doelbewus daarop uit is om die ANC te verwoes en seker te maak dat individue bo die party seëvier.

“Niemand kan en mag groter as die ANC wees nie.”

‘Ek bly die adjunk-sekretaris-generaal’

Ongeag of Magashule opsy staan of nie, sy sal nie die waarnemende sekretaris-generaal word nie, sê Duarte.

“Ek is verkies tot adjunk-sekretaris-generaal en bly in dié pos tot die volgende (ANC-)verkiesing.

“Ek sal dalk die pligte oorneem, maar nee, ek sal nie die waarnemende sekretaris-generaal word nie,” het sy in die onderhoud met die SAUK gesê.

Meer oor:  Jesse Duarte  |  Opsystaan  |  Anc-Faksies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.