Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC se vertroue in Cyril ‘is onwrikbaar’

Die ANC se vertroue in pres. Cyril Ramaphosa se leierskap is “onwrikbaar”.

Die regerende party het Donderdag só gesê toe hy die “ligsinnige mosie” van wantroue in Ramaphosa, wat deur die African Transformation Movement (ATM) ingedien is, verwerp het. Die party het ook gesê ANC-LP’s is slaggereed om die mosie te verslaan.

Die mosie was veronderstel om Donderdagmiddag in die Nasionale Vergadering (NV) gedebatteer en oor gestem te word.

Die ATM het egter ter elfder ure die hooggeregshof in Kaapstad op ’n dringende grondslag genader om Thandi Modise, speaker van die NV, se besluit dat daar nie in die geheim oor die mosie gestem sal word nie, te laat hersien en ter syde te laat stel.

Vuyo Zungula, ATM-president, het nadat die party en die parlement ooreengekom het dat die dringende hofaansoek op 3 en 4 Februarie aangehoor sal word, Modise amptelik versoek om die mosie tot ná die hofsaak uit te stel.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: City Press

Modise het Donderdagmiddag op ’n amptelike sitting van die NV aan alle politieke partye gesê sy het besluit om die mosie van wantroue uit te stel.

Sy het dit ook duidelik gemaak dat die konstitusionele hof vroeër in ’n soortgelyke hofgeding beslis het dat hy nie by die magte van die speaker sal inmeng om te besluit of so ’n stemmery openlik of in die geheim moet plaasvind nie.

Modise het ook die aangeleentheid na die NV se programkomitee verwys, wat intussen “die finale besluit sal neem oor hoe kwessies van hierdie aard in die toekoms gehanteer moet word”.

Zizi Kodwa, ANC-LP en adjunkminister van staatsveiligheid, het ná Modise se toespraak in die NV gesê die “ANC is gereed vir hierdie mosie. En ek is seker dat selfs al bring jy dit terug op 25 Desember, sal ons steeds gereed wees daarvoor.”

Floyd Shivambu, EFF-LP, het daarna aan Kodwa gesê: “Jy gaan baie geskok wees eerbare Kodwa. Jy gaan baie geskok wees.”

Hy het bygevoeg dat as die ANC vertroue het oor die eenheid van hul party en LP’s, hoef daar nie probleme te wees as LP’s in die geheim stem nie.

Volgens Shivambu moet die parlement hom ook logistiekgewys voorberei indien die hof of Modise later sou besluit dat daar in die geheim gestem kan word.

Intussen het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, Donderdag in ’n verklaring gesê die ATM mors die parlement se tyd met ’n mosie wat hulle weet “geen kans staan om te slaag nie”.

“Daar is eenvoudig geen grondslag vir dié redelik ligsinnige mosie nie. Ons is vol vertroue dat die ANC-LP’s wat in die mosie sal debatteer, ons goed verteenwoordig.”

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het Donderdag in ’n verklaring herbevestig dat die DA buite stemming sal bly omdat die party “weier om by ’n morsige stryd wat binne die ANC broei, betrek te word”.

“Die DA is van mening dat hierdie ATM-mosie niks meer is as ’n ligsinnige interne ANC-binnegeveg wat hom nou in die parlement uitspeel nie.

“Die aangeleentheid van die geheime stemmery is nou tussen die ATM en die Zuma/Magashule-faksie, die speaker en die hooggeregshof.”

Daar is eenvoudig geen grondslag vir dié redelik ligsinnige mosie nie. Ons is vol vertroue dat die ANC-LP’s wat in die mosie sal debatteer, ons goed verteenwoordig.

Zungula voer in hofstukke wat by die hooggeregshof ingedien is aan dat Modise se herhaaldelike weiering van ’n geheime stemmery “irrasioneel en bevooroordeeld” is.

Hy beweer ook dat die huidige politieke atmosfeer baie toksies en gespanne is en dat LP’s as gevolg hiervan nie op grond van hul “persoonlike gewete” sal kan stem nie.

Zungula se redes vir die toksiese atmosfeer is “die ANC se faksiegevegte nadat lede van tenderkorrupsie met persoonlike beskermende toerusting en korrupsie-verwante oortredings voortspruitend uit die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aangekla is, sowel as die verbranding van ’n ANC T-hemp met Ramaphosa se gesig daarop”.

Laasgenoemde het gebeur tydens die onlangse hofverskyning van Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, in die landdroshof in Bloemfontein in verband met korrupsie-aanklagte.

Die ATM meen die heersende politieke situasie is dieselfde as wat dit was tydens die mosie van wantroue teen oudpres. Jacob Zuma in 2017.

Meer oor:  Mosie Van Wantroue  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Atm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.