Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC smyt 7 burgemeesters uit

Die ANC se provinsiale taakspan in Noordwes het vandeesweek sewe burgemeesters in dié provinsie herroep, onder wie vier by munisipaliteite wat geld by die VBS-bank belê het.

Dié vier munisipaliteite het saam sowat R314 miljoen by die bankrot bank belê. “Strafregtelike klagte behoort te kom teen amptenare wat ten koste van dienslewering by hierdie beleggings betrokke was,” sê Kabelo Mataboge, woordvoerder van die taakspan.

Die vier munisipaliteite wat geld by VBS belê het, is Madibeng in die Brits-omgewing, Moretele sowat 120 km vanaf Rustenburg, Mahikeng en die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit, wat onder meer Vryburg bedien.

Die taakspan het ook die burgemeester van die Kagisano-Molopo-munisipaliteit in die Vryburg-distrik herroep. “Dit is in belang van dienslewering, om vertroue in die ANC te herstel en orde te skep,” sê Mataboge.

Die burgemeester van die Mamusa-munisipaliteit in die Schweizer-Reneke-omgewing en Maquassi Hills in die Wolmaransstad-omgewing, is ook herroep. Diensleweringsprobleme is endemies in dié gebiede. In Wolmaransstad het dienslewering tot stilstand gekom weens stakings, sê Don van Zyl, DA-raadslid in die gebied.

Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, sê die herroeping van burgemeesters in Noordwes is net ’n “rookskerm”. “Die ANC kan burgemeesters verwyder, maar hulle moet self bedank. Mosies van wantroue sal sekerlik teen die (nuwe) burgemeesters ingestel word. Die kringloop van verkiesing, bedanking, herkiesing en diensleweringsprobleme sal net voortgaan.”

Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes, sê dié party is nie oortuig dat die herroeping van die burgemeesters grootskeepse korrupsie en diensleweringsprobleme in die provinsie sal oplos nie.

“Die probleme in Noordwes se munisipaliteite is nie slegs te wyte aan skelm en onbevoegde ampsbekleërs nie, maar aan die ANC self. Die herroeping van die burgemeesters is te min, te laat. Dis nie ’n prestasie nie, maar ’n skande omdat die ANC die oorsaak van die probleme is.”

Vuyisile Ngesi, woordvoerder van dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, het Woensdag bekend gemaak Ramokoka-stad is onder administrasie ná gewelddadige protesoptrede in dié gebied sowat 70 km vanaf Rustenburg. Ramokoka-stad is deel van die Baphalane-gemeenskap.

Sommige skole is weens die protesoptrede sedert Junie vanjaar gesluit, plaaslike klinieke funksioneer nie, vervoerdienste is ontwrig, ekonomiese bedrywighede is tot stilstand geruk en eiendom is aan die brand gesteek. Die oproer het ook tot gevolg dat misdadige bedrywighede vererger, sê Ngesi.

Adv. Ditaba Rantsane is as administrateur aangestel.

Meer oor:  Anc  |  Vbs-Bank  |  Noordwes  |  Provinsiale Taakspan  |  Sewe Burgemeesters  |  Geld  |  Herroep  |  Belê
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.