Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘ANC soek aandag met DA-foto’ – ontleder

Die ANC “gee nie om oor die moraliteit nie, dit gaan oor die aandag”, sê die politieke ontleder Ralph Mathekga, oor die bohaai omdat die ANC ’n foto en verkiesingslagspreuk van die DA vir sy eie propaganda gebruik.

Die ANC het vandeesweek ’n brosjure met die foto, waarop ’n juigende groep mense met plakkate staan wat die woorde “One South Africa for All” uitspel, op Facebook gelaai.

Onder die foto het ’n aanhaling van pres. Cyril Ramaphosa verskyn.

Die DA sê die foto én die slagspreuk “One South Africa for All” is sy intellektuele eiendom en was nét op sy webblad beskikbaar totdat dit op die ANC se Facebook-blad verskyn het.

Die foto teen die skerm in 2018 waar Mmusi Maimane, DA-leier, by die DA se federale kongres in Pretoria optree.

Volgens Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het ’n fotograaf in die DA se eie bemarkingspan die foto geneem. Dit is vergroot en vir die eerste keer as agtergrond gebruik vir ’n toespraak deur Mmusi Maimane, DA-leier by die party se federale kongres in April 2018. Die DA wil nou regstappe teen die ANC doen.

“As jy mense in die ANC wat daarvoor verantwoordelik is, gaan vra, sal hulle erken dis verkeerd, maar dit gaan hier oor die aandag wat die ANC hiermee kry,” sê Mathekga.

Hy en prof. Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, is dit eens dat die stryd tussen politieke partye gaan vererger namate die verkiesingsveldtog tot Mei vorder.

“Hoewel ons wetgewing het oor die gebruik van mekaar se logo’s, word hierdie dinge nie werklik op grondvlak gekontroleer nie.

“Die houding is bloot: ek kan hiermee wegkom. Dis anders as in Amerika, wat baie wetlik met hierdie dinge omgaan,” sê Mathekga.

Die foto op ’n ANC-brosjure op Facebook.

Venter meen die ANC gaan hard moet soek na projekte wat die aandag weglei van oudpres. Jacob Zuma af.

“In die lig van die Zondo-kommissie na staatskaping kan die ANC nie toelaat dat Zuma sy poster boy word, soos hy tans probeer nie.”

Volgens Venter het die ANC so ’n uiteenlopende ondersteunerskorps dat die party beswaarlik ’n enkele boodskap of slagspreuk sal kry wat vir al sy kiesers “werk”.

Hy sê die groot vraag gaan eintlik oor Fikile Mbalula, die ANC se verkiesingshoof, wat die veldtog bestuur.

“Hy het baie energie, maar ek het my bedenkinge oor hoe doeltreffend hy dit kan doen. Hierdie voorval is alles tekens van mense wat hul politieke vere vir die verkiesing regskud.”

Zizi Kodwa, hoof van die presidensie in die ANC, het Donderdag by navraag gesê: “Die DA is onder die see en sink net dieper af. Ons sal nie van stryk gebring word nie. Wat die DA doen, is ’n teken dat hulle irrelevant en onbenullig is.” Volgens die ANC is die aantygings teen hom “lagwekkend” en die “ergste vlak van desperaatheid”.

Malatsi het die ANC se reaksie as belaglik afgemaak. “Dis nogal pateties – selfs vir ANC-standaarde.”

Meer oor:  Slagspreuk  |  Da  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.