Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC staan AfriForum se aansoek oor grond-verslag teen

Die eerste hofskoot het geklap om die parlement se proses om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, in sy spore te stuit.

AfriForum het Dinsdag hofstukke op die parlement beteken om die verslag van die parlementêre grondwethersieningskomitee tersyde te laat stel. In dié verslag word aanbeveel dat art. 25 van die Grondwet gewysig word om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Die parlement het Woensdag aangedui dat hy dié aansoek gaan teenstaan.

Die Nasionale Vergadering (NV) is voorlopig geskeduleer om die komiteeverslag op 4 Desember te debatteer.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het bevestig dat die organisasie Dinsdag die hofstukke op die parlement beteken het. AfriForum wil met die aansoek die aanbeveling van die komitee tersyde laat stel, omdat die proses “vol gebreke was”.

“Die belangrikste aspek van die aansoek is dat sowat 100 000 van AfriForum se ondersteuners skriftelike insette gelewer het, en dit is doodeenvoudig geïgnoreer. Ons glo die hele deelnameproses was gebrekkig.”

Kriel verduidelik dat die hofaansoek in die hooggeregshof in Kaapstad uit twee dele bestaan. “Die langer hofsaak is om die proses ongeldig te laat verklaar. Dié aspek vloei voort uit die ongeldige proses.”

Ons moet verhoed dat die parlement ’n aanbeveling goedkeur wat gebou is op ’n gebrekkige proses.

Op kort termyn wil AfriForum aan die parlement skryf en vra dat, omdat die saak hangend is, die debat oor die verslag nie plaasvind nie, omdat die proses volgens die organisasie gebrekkig was.

“As daar besluit word om voort te gaan met die debat sal ons die hof vir ’n dringende hofinterdik nader om te verhoed dat die debat plaasvind. Ons moet verhoed dat die parlement ’n aanbeveling goedkeur wat gebou is op ’n gebrekkige proses,” sê Kriel.

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep in die parlement, het in ’n verklaring kennis geneem van AfriForum se planne, maar hy sê die ANC steun die parlement se besluit om die aansoek teen te staan.

“AfriForum is so vasbeslote om die parlement te vertraag en te ontspoor in sy doelwit om die mense se strewe om hul grond terug te kry te bevredig, dat hulle ’n bevel soek om die komitee te verbied om sy verslag by die NV en Nasionale Raad van Provinsies in te dien.

“Die ANC ondersteun die parlement se besluit ten volle om senior advokate aan te stel om die aansoek uit te daag.

“Ons is seker dat dié hofaansoek verslaan sal word op dieselfde wyse as waarop hul regse veldtog in die parlementêre komitee se proses verslaan is om die aanvaarding van die verslag – waarin die grondwetwysiging aanbeveel word – te voorkom.”

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, het AfriForum se hofgeding verwelkom. “Ons het van die begin af gewaarsku dat die hele proses gebrekkig is, dat daar ’n stortvloed van regsprobleme gaan wees en dat verdere aansoeke en regsprosesse gaan volg.”

Hy sê dit is eintlik ’n tragedie dat iets wat “so omstrede en verdelend is, op so ’n amateuragtige en onbeholpe manier” goedgekeur is.

“Die regsproses moet maar sy gang gaan en uit die aard van die saak hou ons al ons opsies oop,” sê Mulder.

Meer oor:  Afriforum  |  Anc  |  Onteiening  |  Grond  |  Parlement  |  Hofstukke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.