Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC steun DA – ‘dit help armes’

Die DA kan dalk sonder die EFF se steun beheer behou van Johannesburg en Tshwane, maar dan sal hy die ANC moet oortuig hy bevoordeel armes in dié twee metrorade.

En in Nelson Mandelabaai, waar Athol Trollip as DA-burgemeester afgesit is deur die UDM se Mongameli Bobani, staan die koalisie wat Bobani met die ANC gesluit het om Trollip uit te stoot op wankelende bene.

Athol Trollip

Eers het die DA twee tussenverkiesings in Port Elizabeth met gemak gewen. Toe het die ANC-UDM-meerderheid Maandag heeltemal verdwyn toe die tronkdeur toeslaan agter raadslid Bongo Nombiba van die ANC. Hy het by die St. Albans-gevangenis in Port Elizabeth aangemeld vir tronkstraf van vyf jaar weens bedrog en geldwassery. Die konstitusionele hof het die vorige week sy laaste appèlaansoek teen dié vonnis van die hand gewys.

Die Bobani-koalisie het nou 59 raadslede, van wie 50 ANC is. Ook die DA-koalisie het nou 59 setels, waarvan 57 deur DA-lede onder Trollip gevul word.

Die breuk tussen die DA en die EFF het ontstaan omdat die EFF geëis het dat hy die Tshwane-metro wil regeer in ruil daarvoor dat die DA voortgaan om Johannesburg te regeer.

Herman Mashaba

Die DA was nie daarvoor te vinde nie, veral omdat die EFF net 25 proporsionele setels in die Tshwane-raad van 214 stadsraadslede het. Die DA het 93 raadslede en die ANC 89.

Die EFF het twee weke gelede teen die begroting gestem wat die DA in die Tshwane-metroraad ingedien het, maar die ANC het toe die DA se begroting gesteun en die begroting is aanvaar.

Dit kan die DA in staat stel om met sy minderheid voort te gaan tot Januarie 2020, wanneer hy ’n aanvullende begroting aan die raad moet voorlê.

Die ANC sê hy sal die DA weer steun mits die DA bevredigend presteer met die kapitaalbesteding van R1,3 miljard in die metro se twee armste noordelike gebiede, Mabopane en Winterveld, sê Kgosi Maepa, leier van die ANC in die metroraad.

“Uit die totale kapitaalbegroting van R4 miljard word R1,3 miljard in die twee streke bestee vir die bou van padinfrastruktuur en vir elektrifisering. Die DA het dit vooraf met ons kom bespreek. Ons het besluit dis ’n bevredigende begroting en dat ons dit gaan steun. Die begroting is in belang van die mense, nie van die ANC nie. Ek weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar as dit aanhou, sal ons weer ten gunste van besluite stem wat armes bevoordeel.

“Die ANC het 89 raadslede in die raad – 68 wyksraadslede en die res proporsionele verteenwoordigers. Ons wyksraadslede verteenwoordig wyke waar meestal arm mense bly. Ons is in die opposisie en bly in opposisie, maar ons moet in belang van die mense van Tshwane optree.

“Dit is egter geen vrywaring vir die DA dat ons sal aanhou om hulle te steun nie – ons sal elke item afsonderlike beoordeel,” sê Maepa.

Hy is ontevrede oor die onreëlmatige besteding van R5 miljard en ongemagtigde besteding van R1,1 miljard in Tshwane wat verlede week in die verslag van die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, aan die lig gekom het.

“Die DA en die EFF was saam in beheer terwyl dit gebeur het. Hulle moet die verantwoordelikheid daarvoor dra,” sê hy.

Makwetu se verslag oor plaaslike regering wys ook dat Tshwane R65 miljoen se verkwistende en nuttelose besteding aangegaan het, meestal vir restourasiewerk aan die Tshwane-stadsaal wat nie binne die voorskrifte van die Nasionale Erfenisraad gedoen is nie.

Die DA het egter verlede week uitgewys dat baie van dié problematiese kontrakte reeds onder ANC-bewind gesluit is.

“Maar dis nie al nie – hulle het verlede jaar R500 000 bestee aan die begrafnis van ’n stadsraadslid. Wie bestee soveel geld aan ’n begrafnis?” wou Maepa weet.

James Selfe, wat in Oktober die rol van die DA se uitvoerende voorsitter neerlê om ’n amp te aanvaar waarin hy die DA se regering op plaaslike en provinsiale vlak koördineer, sê dis heeltemal moontlik dat die DA beheer kan verloor in Tshwane en Johannesburg.

“Maar dit sal afhang daarvan of die EFF bereid is om saam met die ANC te werk. Ek vermoed dat dit nie deel van die EFF se planne is nie. Ek dink ook nie die EFF het verwag dat die ANC ons begrotings sal ondersteun nie,” sê hy.

In Johannesburg, waar die uitvoerende burgemeester, Herman Mashaba van die DA, goed met die EFF klaarkom, het die ANC se koukus nog nie besluit hoe hy dit gaan hanteer wanneer die EFF sy steun vir Mashaba onttrek nie, sê Geoff Makhubo, leier van die ANC in die metroraad.

“Ons het die DA se jongste kapitaalbegroting gesteun, want dit het voorsiening gemaak vir voldoende infrastruktuur in armer gebiede. Dit maak selfs voorsiening vir die bou van teerpaaie in informele nedersettings. Ons het egter teen die bedryfsbegroting gestem, want dit kan op geen manier as partydig vir armes bestempel word nie. Die verhogings in elektrisiteitstariewe en eiendomsbelasting is net té hoog,” het hy gesê.

Selfe sê dis veral onseker wat in Johannesburg en Nelson Mandelabaai gaan gebeur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.