Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘ANC steun mengsel van grondbesit’
Ronald Lamola Foto: Deaan Vivier

Terwyl die ANC ten gunste van grondverdeling is, wil hy nie al die grond in die land nasionaliseer en dit aan die staat gee nie. Hy ondersteun ’n mengsel van grondeienaarskap.

So het Ronald Lamola, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), gesê.

Hy het Vrydag in Stellenbosch deelgeneem aan ’n grondberaad, wat deur die Wes-Kaapse ANC aangebied is na aanleiding van die huidige landwye openbare sittings oor grondhervorming.

Volgens hom moet die staat grond besit vir sy eie gebruik en doelwitte, daar moet ook kommunale eienaarskap wees en daar moet titelaktes vir privaat individue beskikbaar wees om verblyfreg te verseker. “Dit is ’n mengsel van eienaarskap. Dit is nie dat ons al die grond in die land wil nasionaliseer en dit vir die staat wil gee nie,” het Lamola gesê.

Dié standpunt spruit uit verskeie faktore, onder meer dat die land ’n gemengde ekonomie het, het Lamola gesê. “Jy kan nie in ’n gemengde ekonomie ’n situasie hê waar die staat al die grond besit nie.”

Die ANC steun die wysiging van die Grondwet sodat dit voorsiening maak vir grondonteiening sonder vergoeding.

Lamola het gesê alle staatsdepartemente en -entiteite met onteieningsmagte moet daarvan gebruik maak.

Jy kan nie in ’n gemengde ekonomie ’n situasie hê waar die staat al die grond besit nie.
Ronald Lamola

Sulke instellings hoef nie te wag totdat die landwye openbare vergaderings oor of art. 25 van die Grondwet gewysig behoort te word om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak afgehandel is om dit te doen nie.

Toe hy ná afloop van sy toespraak deur joernaliste gevra is om uit te brei op dié stelling, het Lamola geantwoord: “Die departement van menslike nedersettings het byvoorbeeld onteieningsmagte. Ons sê laat hulle dit gebruik, maar hulle moenie markverwante pryse betaal nie, want dit is nie wat die Grondwet vereis nie. Dit (die Grondwet) vereis dat dit billik en regverdig moet wees en dit behels verskeie omstandighede waaronder daar onteien kan word.

“Die departement van menslike nedersettings, basiese onderwys en openbare werke het onteieningsmagte, sowel as verskeie staatsentiteite soos Sanral, Eskom . . . Die uitdaging wat hulle het, is dat hulle markverwante pryse gebruik het – eiendomswaardeerders het ook markverwante pryse gebruik wat nie deur die Grondwet vereis word as jy wil onteien nie. In dié verband sê ons laat dié wat onteieningsmagte het dit doen,” het Lamola gesê.

Dr. Wallace Mgoqi, waarnemende regter in die grondeisehof, wat ook een van die sprekers was, het voorbrand gemaak daarvoor dat ontspanningsgeriewe wat oortollig geword het, soos gholfbane op munisipale meentgrond, vir behuising geteiken behoort te word.

Dit is volgens hom nie noodsaaklik om sulke grond te onteien nie omdat dit aan die staat behoort.

“Die meeste gholfbane is op munisipale grond geleë. Daar behoort ’n oudit te wees van almal ten opsigte van hul status en prestasie. Daar is geen rede vir dié wat sukkel om voort te bestaan nie. Die verhuurder – wat die staat is – kan soos verhuurders onder normale omstandighede die toekomstige gebruik van sy eiendom bepaal. In dié geval kan die staat sê dat ontspanningsgebruik minder belangrik as byvoorbeeld menslike nedersettings en voedselsekuriteit is.”

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Grondonteiening  |  Anc  |  Grondbesit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.