ANC-swaargewigte, insluitend kabinetsministers, het Maandag in luukse motors by ’n Kaapse hotel aangekom waar dié party se nasionale werkkomitee (NWK) asook lede van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) vergader.
Die vergadering kom enkele dae nadat die konstitusionele hof in sy uitspraak oor die Nkandla-skandaal bevind het dat pres. Jacob Zuma die Grondwet oortree het.
’n Groot media-afvaardiging het die ANC-lede by die ingang van die hotel ingewag. Die meeste het nie op vrae reageer nie en vinnig by die hotel ingeglip.
Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, het Vrydag aangekondig dat dié vergadering van die NWK oop sal wees vir lede van die NUK.
Onder die ministers en adjunkministers wat rondom 14:00 by die President-hotel in Bantrybaai digby Seepunt begin opdaag het, was Jeff Radebe (minister in die presidensie), Aaron Motsoaledi (gesondheid), Lindiwe Sisulu (huisvesting), Nathi Mthethwa (kuns en kultuur), Siyabonga Cwele (telekommunikasie), Bathabile Dlamini (maatskaplike dienste), Malusi Gigaba (binnelandse sake), Mcebisi Skwatsha, (adjunkminister van die landelike ontwikkeling en grondhervorming) en Nomaindia Mfeketo (adjunkminister van internasionale betrekkinge).
Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, het belowe om later met die media te praat.
Mantashe was in ’n goeie luim maar wou nie oor sy verwagtinge praat nie. Kort op sy hakke was Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, maar ook sy wou nie veel sê nie.