Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC trek mosie teen Mashaba terug
Herman MashabaFoto: Selloane Khalane

Die ANC se poging om van Herman Mashaba van die DA, Johannesburg se burgemeester, ontslae te raak, het skipbreuk gely omdat die ANC nie met ander partye tot ’n vergelyk kon kom nie.

Jolidee Matongo, die ANC se woordvoerder in die Johannesburgse metroraad, het Donderdag by die raadsaal gesê die partye kon nie ooreenkom oor die verdeling van rolle in die nuwe burgemeesterskomitee wat op Mashaba se vertrek sou volg nie. Die party het daarna sy mosie van wantroue teen Mashaba teruggetrek.

Volgens Matongo is daar vroeër “in beginsel” ooreengekom dat die ander partye ook deel van die burgemeesterskomitee sal wees.

“Maar toe ons vanoggend wakker word, het hulle aangedring ons moet spesifiek wees oor watter poste hulle gaan kry. Dit is ’n gesprek wat nog nie gevoer is nie. Dit moet nou gebeur.”

Die party gaan die mosie weer indien – by die volgende raadsitting aanstaande maand.

Nadat die ANC die onttrekking aangekondig het, het Mashaba aan verslaggewers gesê die mosie was “beuselagtig”.

“Almal van ons is daarvan bewus dat die ANC ’n verdeelde organisasie is. Hy moet mense omkoop om vir hom te stem. Dalk het hy hierdie keer nie genoeg geld ontvang om genoeg stemme te koop nie,” sê hy.

’n Mosie van wantroue het 136 stemme in die metroraad van 270 lede nodig om te slaag. Die ANC het 122 setels, die DA 130 en die EFF 30. Die IVP het vyf setels en die VF Plus 1.

Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF, het op Twitter met die ANC gespot oor sy mislukte poging.

“Het die ANC dit reggekry om uitvoerende burgemeester @HermanMashaba te verwyder? Hy sê al twee maande lank hy het nie die EFF nodig daarvoor nie en het 136 raadslede gekry om saam met hom te stem. Het hy geslaag? Het die ANC Jhb oorgeneem?”

Mashaba self het op Twitter ’n GIF van homself geplaas waar hy rustig tee drink met die byskrif: “Dit lyk my @MYANC in Joburg het wantroue in sy eie mosie van wantroue gehad . . .”

Julius Malema, EFF-leier, reageer daarop met emoji’s wat huil van die lag.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.