Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-verslag oor skandemakers Maandag voor NUK

Die top-ses amptenare van die ANC het onderneem om môreoggend vir die eerste keer ’n verslag van die party se integriteitskomitee oor die geskiktheid van die party se kandidatelys vir die pas afgelope verkiesing aan die 80 lede van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) bekend te maak.

“Die verslag sou reeds verlede week op die vorige spesiale NUK-vergadering in Irene aan ons gegee word, maar dis nie gedoen nie. Ons vermoed dis omdat die verslag aanbeveel dat die nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, en die adjunkpresident, David Mabuza, van die lede is wat van die kandidatelys verwyder moet word,” het ’n NUK-lid wat nie sy naam genoem wil hê nie aan Rapport gesê.

Die top-ses amptenare is tot dusver die enigstes in die NUK wat die verslag van die integriteitskomitee gesien het, maar volgens berigte is daar 22 name op die ANC se kandidatelys wat volgens die verslag nie geskik is vir parlementêre diens nie omdat beweringe van misdade soos staatskaping teen hulle ondersoek word.

“Ons was ontevrede omdat dit nie verlede week aan die NUK voorgelê is nie. Die nasionale werkkomitee het nou besluit dat dit op die volgende NUK-vergadering Maandag in Kaapstad voorgelê en bespreek sal word,” het die NUK-lid gesê.

Mahumapelo het nog steun onder Ramaphosa se vyande.

Mantashe en Mabuza is twee van verskeie NUK-lede wat glo in die verslag uitgewys word as ongeskik vir parlementêre diens weens beweringe teen hulle.

Mantashe het toegelaat dat Bosasa, die maatskappy van Gavin Watson wat by grootskaalse omkopery betrek is in getuienis voor die Zondo-kommissie, alarmtoerusting ter waarde van R350 000 by sy huise in Boksburg en op sy plase in die Oos-Kaap installeer.

Ander ANC-kandidate wat volgens die integriteitskomitee nie op die ANC se kandidatelys behoort te wees nie, is Malusi Gigaba, voormalige minister van binnelandse sake en openbare ondernemings, Nomvula Mokonyane, voormalige minister van kommunikasie en waterwese, en Bathabile Dlamini, minister van vrouesake in die presidensie en voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling.

Al vyf is egter op die lys van nuwe parlementslede wat Woensdag in Kaapstad vir nog ’n termyn van vyf jaar ingehuldig word. Hulle is egter weggelaat uit ’n lys van moontlike kabinetslede wat pres. Cyril Ramaphosa aan die ANC-hoofkantoor gestuur het vir oorweging in die nuwe kabinet wat hy na verwagting ná sy inhuldiging sal aankondig.

Mantashe en Mabuza is albei weggelaat op dié lys.

Ebrahim Patel, voormalige minister van ekonomiese ontwikkeling, is op dié lys van Ramaphosa, maar nie op die lys van nuwe parlementslede nie. Patel, wat as ’n bekwame minister beskou word en by geen beweringe oor staatskaping of ander ongerymdhede betrek is nie, was nommer 137 op die ANC se kandidatelys, wat beteken dat die party minstens 68% van die stemme in die verkiesing moes kry voordat hy weer ’n parlementslid sou word.

Hy kan net weer in die kabinet aangestel word indien van die ander nuwe parlementslede onttrek en hy dan in ’n hoër plek op die lys ingeskuif word.

Daar heers groot afwagting oor die samestelling van Ramaphosa se nuwe, verkleinde kabinet, omdat dit die eerste werklike aanduiding sal wees van die mate waarin Ramaphosa sy wil op die nuwe regering kan afdwing en kan wal gooi teen korrupsie.

Voormalige ministers in die ou kabinet wat ontbind is voor die verkiesing, wat in die nuwe regering parlementslede word, verloor hul ministeriële pensioen indien hulle as LP’s aanbly sonder dat hulle in die kabinet aangestel word. Dit is waarom Gigaba en Lynne Brown ook as parlementslede bedank het nadat hulle deur Ramaphosa uit die kabinet weggelaat is. Verskeie van oudpres. Zuma se vertrouelinge in die kabinet het egter as parlementslede aangebly en is nou weer op die lys van nuwe parlementslede wat Woensdag ingehuldig word wanneer die sesde parlement tot stand kom.

Dit sluit in Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, Bongani Bongo, voormalige minister van staatsveiligheid, en Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne. Al drie is by ernstige beweringe van staatskaping betrek en is waarskynlik op die lys van kandidate wat volgens die integriteitskomitee nie vir parlementêre diens geskik is nie.

Nog omstrede Zuma-vertrouelinge wat Woensdag weer as parlementslede ingehuldig word, is Maite Nkoana-Ma­shabane, voormalige minister van grondsake en van internasionale betrekkinge, David Mahlobo, voormalige minister van staatsveiligheid en openbare ondernemings en Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes. Mahumapelo het kort ná stemdag gesê het hy is onwillig om ’n parlementslid te word en sal verkies om in sy provinsie te bly.

“Hy is egter ’n gevaar in Noordwes omdat hy nog soveel steun onder Ramaphosa se vyande het. Sy ontplooiing in die parlement is ’n slim manier om hom te neutraliseer,” het ’n bron in Luthuli-huis aan Rapport gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.