Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-veterane kap na Ace in ope brief

Die openbare aanvalle op ANC-leiers soos Derek Hanekom, Pravin Gordhan, Trevor Manuel, Maria Ramos en ander is “niks anders as ’n georkestreerde veldtog om die aandag van korrupsie en staatskaping af te lei nie”.

Daarom moet die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) sulke mense ten sterkste verdedig in “die gevaarlike tydperk vir die ANC”, pleit ’n groep ANC-veterane in ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa en die res van die ANC se topses-leierskorps.

Cheryl Carolus

“Ons glo dat julle as NUK-lede, net soos ons, skouer aan skouer met hulle sal staan ter wille van die land en ANC,” skryf die veterane Cheryl Carolus, Sheila Sisulu, Ilse Fischer, Murphy Morobe, Fazel Randera, Mavuso Msimang, Pallo Jordan en Aslam Dasoo.

Die brief kom terwyl ’n NUK-vergadering die naweek in Pretoria gehou word. Dit blyk dat die ANC erg verdeeld is.

Die herrie oor Hanekom en oudpres. Jacob Zuma se bewerings voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping dat spioene die ANC geïnfiltreer het, is van die kwessies wat na verwagting indringend bespreek sal word.

Hanekom is in omstredenheid gedompel nadat Julius Malema verlede week onthul het dat dié oudminister van toerisme in 2017 met die EFF vergader het om Zuma se ondergang te probeer bewerkstellig.

“...almal is bewus van die gevolge om iemand ’n spioen of vyandige agent te noem..."

Dit het daartoe gelei dat die militêre veterane van die MK, stoere Zuma-ondersteuners, eis dat Hanekom, ’n Ramaphosa-ondersteuner, onmiddellik uit die ANC geskors word.

Ace Magashule

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en Zuma-lojalis, het Hanekom Woensdagaand in ’n middernagtelike verklaring ’n “bedrieër” en “EFF-agent” genoem wat die ANC wil verdeel.

Die groep skryf in hul ope brief dat hulle met skok kennis geneem het van Magashule se verklaring Woensdagaand en meen dit is ’n aanduiding dat die ANC erg verdeeld bly omdat dit van Magashule, en nie die hele topses-leierskap nie, gekom het.

Die groep sê hulle ondersteun Hanekom omdat hy niks verkeerd gedoen het nie. Hulle wys daarop dat Jackson Mthembu, toe nog ANC-hoofsweep in die parlement, voor Zuma se bedanking in 2018 gesê het dat die ANC met die EFF sou praat om hul mosie van wantroue in Zuma te wysig en te ondersteun.

“Beproefde ANC-kamerade soos Hanekom, Pravin, Siphiwe (Nyanda) en ander word uitgesonder en aangeval. Ons glo dit is weens hul verbintenis aan die geskiedkundige waardes en beginsels van die ANC en hul onverbiddelike weerstand teen korrupsie en staatskaping. Daar kan geen ander logiese rede wees nie.”

Jacob Zuma tydens sy verskyning voor die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Die briefskrywers versoek die NUK en ANC-leiers om nie sulke “verbysterende” beweringe teen ander te maak nie omdat “almal bewus is van die gevolge om iemand ’n spioen of vyandige agent te noem", soos Zuma Hanekom die afgelope week bestempel het.

Die groep voer verder aan dat die afgelope week se gebeure, asook aanvalle voor dit op Gordhan, Manual, Ramos en ander ook “‘n georkestreerde veldtog is om die aandag van korrupsie en staatskaping af te lei”.

Meer oor:  Cheryl Carolus  |  Ace Magashule  |  Derek Hanekom  |  Pretoria  |  Anc  |  Nuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.