Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC wil DA by Zondo verklik

Die ANC in die Tshwane-metroraad oorweeg dit om hom tot die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te wend weens die “korrupsie, ampsoortredings en wanadministrasie” sedert die DA in 2016 beheer oorgeneem het.

Die ANC het die aankondiging Donderdagoggend voor die raad se maandvergadering gedoen.

Wanadministrasie in die metroraad het ’n gewoonte geword, het die ANC in ’n verklaring gesê, “maar die inwoners het sedertdien niks anders nie as ’n diensleweringsnagmerrie, onvermelde korrupsie en ampsoortredings beleef”.

Hy sê dit is opmerklik dat die DA wegbly van die Zondo-kommissie af omdat hy nie openlik wil praat oor die grootskeepse korrupsie wat plaasvind daar waar hy regeer nie.

Die DA wou nie kommentaar lewer nie.

Op die raadsvergadering het ’n senior stadsraadslid van die VF Plus, wat ’n koalisievennoot van die DA in die Tshwane-raad is, skerp deurgeloop onder veral die EFF.

Sakkie du Plooy, voorsitter van die VF Plus in Tshwane en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsontwikkeling, is deur Obakeng Ramabodu, EFF-leier in die raad, daarvan beskuldig dat hy “arrogant is en nie respek vir swart mense het nie”.

Du Plooy glo vroeër uit ’n vergadering van die oorsigkomitee vir maatskaplike ontwikkeling gestap, glo toe ’n gas van hom uit die sakewêreld die komitee toegespreek het.

Sy is glo deur sommige ANC- en EFF-komiteelede “tot trane gedryf”.

Toe Du Plooy Donderdag oor ’n besprekingspunt oor Erfenisdag sy toespraak wou lewer, is hy gekoggel.

Ramabodu het opgestaan en op ’n punt van orde gesê Du Plooy mag nie praat nie omdat hy “arrogant is en nie respek het vir swart mense nie”.

“Ons is die spietkops van die revolusie,” het hy onder toejuiging van ander lede van die EFF gesê.

Die ANC het die EFF se standpunt gesteun en gevra om vir vyf minute te koukus.

Die partye se swepe het vergader en daar is later aangekondig Du Plooy kan praat omdat die aangeleentheid reeds na die metroraad se etiekkomitee verwys is.

Rachel Mathebe, speaker, het gesê die saak sal volledig ondersoek word.

Du Plooy het skaars begin praat toe Ramabodu weer opspring en uitroep: “Jy bly arrogant”.

Du Plooy het sy toespraak hervat en gesê hy het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword wat sy familie in 1859 gekoop het.

Weer was Ramabodu op sy voete: “Jy lieg dat die plaas gekoop is. Die grond is gevat, gesteel.

“Jy moet sê ‘ek het op ’n gesteelde plaas grootgeword’.”

Du Plooy het hierna met sy toespraak voortgegaan. Die ANC het op die vergadering bottels met water uit die krane in Hammanskraal aan lede van die DA en sy koalisievennote gegee en hulle gedaag om dit te drink.

* Inwoners van die Hammanskraal-omgewing noord van Pretoria kla die laaste tyd dat die water wat die Tshwane-metro aan hulle verskaf, nie geskik is vir menslike gebruik nie.

’n Klagte is ook al by die Menseregtekommissie ingedien wat die Tshwane-metro opdrag gegee het om toe te sien dat skoon water teen vandag aan die gebied gelewer word.

Van die persgalery af kon daar nie gesien word of enige van die raadslede wel die water gedrink het nie.

Meer oor:  Tshwane-Metroraad  |  Politiek  |  Da  |  Anc  |  Zondo-Kommissie Van Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.