Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC wil homself voorberei op koalisies
Jackson Mthembu, die ANC-hoofsweep en voorsitter van die party se nasionale uitvoerende komitee se komitee vir kommunikasie, praat Sondag op die ANC se mediakonferensie in Johannesburg waar die party sy besprekingsdokument vir die komende beleidskonferensie bekend gemaak het. Foto: Sarel van der Walt

Die ANC sê hy moet homself begin voorberei op die “ingewikkelde verhoudings” wat in koalisieregerings voorkom.

Die party sê in sy besprekingsdokument vir sy beleidskonferensie in Junie hoewel die party sedert 1994 in koalisies en meerderheidsregerings betrokke was, was dit hoofsaaklik beperk tot kleiner munisipaliteite en die Wes-Kaap.

Die ANC sê hy het nog nie ’n amptelike beleid aangeneem oor koalisievorming nie. Verskillende omstandighede en toestande het tot nou toe verskillende “taktiese posisies” bepaal.

’n Dokument oor koalisies is nog onder bespreking en sal na al die ANC-takke en provinsies gestuur word wanneer dit voltooi is.

Die politieke landskap in Suid-Afrika het ná die munisipale verkiesing verlede jaar verander, toe koalisievorming die DA en ander partye gehelp het om die beheer van drie metrorade in die land oor te neem.

Die ANC erken die uitslag van die plaaslike verkiesing het gelei tot selfondersoek om vas te stel hoekom die party se steun landwyd tot onder 50% gedaal het.

Die party sê hoewel hy steeds die party met die grootste steun in die land is, pla dit dat baie van sy kiesers verlede jaar van die stembus weggebly het. Dit het ’n groot invloed op die party se steun gehad.

Die party sê hy sien homself as ’n politieke party wat meeding om politieke mag. Wanneer hy die mag het, moet hy leierskap in al die sektore van die gemeenskap wys as hy sy leierskap wil behou.

Dieselfde moet gebeur wanneer hy in opposisie is.

Die party waarsku in die besprekingsdokument daar is nie plek vir selfvoldaanheid nie.

Die ANC sê as daar ’n verdere wegkalwing van steun in die stede is, tesame met die groter wordende wegblystem, kan die verkiesing van 2019 ’n groot uitdaging vir die party inhou.

Gauteng is baie belangrik vir die ANC omdat hy hier meer stemme genereer het as in die Wes-Kaap, Noord-Kaap, die Vrystaat en Noordwes saam.

Die ANC se verkiesingstrategie moet meer professioneel en gesofistikeerd word. Dit is belangrik dat hy sy teiken-kiesafdelings duidelik moet identifiseer en seker maak sy ondersteuners hier bring hul stemme uit.

Die party besef ook hy sal beter moet kommunikeer, het Jackson Mthembu, voorsitter van die party se nasionale uitvoerende komitee se subkomitee vir kommunikasie, op die mediakonferensie gesê.

Meer oor:  Anc  |  Sarel Van Der Walt  |  Koalisies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.