Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘ANC wil nie staatsgrond afstaan’

Die ANC het stil-stil in die nuwe hersiene onteieningswet ’n artikel (art. 2.2) bygevoeg wat dit net moontlik maak om staatsgrond – en grond wat aan staatsentiteite behoort – sonder vergoeding te onteien as die betrokke uitvoerende gesag daartoe instem.

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA in die parlement, Woensdag aan die woord op ’n DA-byeenkoms in Olifantsfontein in Ekurhuleni. Foto: Sarel van der Walt

Só het John Steenhuisen, hoofsweep van die DA in die parlement, Woensdag op ’n DA-byeenkoms in Olifantsfontein in Ekurhuleni gesê.

Steenhuisen sê hy glo dit is gedoen omdat die ANC bang is die DA sal, as die parlement die wet aanvaar, in dié gebiede wat hy beheer probeer om staatsgrond wat onbenut lê, in die hande te kry om onder meer huisvestingsprojekte daarop te begin.

“Die ANC probeer ten alle koste keer dat staatsgrond in die hande van die mense beland.”

Steenhuisen sê die regering behoort eerder die miljoene hektaar staatsgrond wat landwyd onbenut lê, op te deel, beskikbaar te stel aan mense en titelaktes te gee aan mense wat dit benut.

“Die ANC en die EFF beskou art. 25 van die Grondwet as dié groot vyand van grondhervorming. Dis nie waar nie.

“Art. 25 sê die regering moet seker maak stappe word gedoen om seker te maak dat restitusie en die herverspreiding van grond plaasvind.

“Dit sê ook die regering moet verseker prosesse is ingestel om dit te doen.

“Ons kan doeltreffende restitusie en grondhervorming in Suid-Afrika hê sonder onteiening sonder vergoeding,” sê Steenhuisen.”

Die grond in die land moet aan die mense behoort, nie aan die staat nie.

Van 4 900 plase wat deur die grondhervormingsproses afgeneem is, het die staat nog geen titelaktes aan die begunstigdes oorhandig nie.

“Die ANC en die EFF sien dit heeltemal anders. Die ANC is dalk nie so openlik soos die EFF oor die staat se beheer oor grond nie, maar die party se geskiedenis wys anders.

“Van 4 900 plase wat deur die grondhervormingsproses afgeneem is, het die staat nog geen titelaktes aan die begunstigdes oorhandig nie.

“Daardie plase is steeds in die hande van die staat,” sê Steenhuisen.

Die DA stel voor afgetrede regters en landdroste moet gevra word om te help om die proses te versnel om die huidige eise – wat in dié stadium na raming sowat 32 jaar sal neem om te voltooi – af te handel.

Van dié eise is al in 1996 ingedien.

Steenhuisen sê dit is ironies dat oudpres. Jacob Zuma homself nou as die kampvegter van die grondkwessie voordoen.

Oudpres. Kgalema Motlanthe en sy hoëvlakpaneel wat namens die parlement ’n ondersoek na grondhervorming gedoen het, sê in hoofstuk 3 van sy verslag daar was ’n merkbare afname in die hoeveelheid grond per hektaar wat tussen 2009 en 2017 oorgedra is.

Dit was die laagste oordrag van grond sedert 1994.

“Die tydperk 2009 tot 2017 val in die tyd dat Zuma aan die bewind was,” sê Steenhuisen.

“Hy kan nie sê hy is ’n kampvegter vir grondhervorming terwyl hy (in sy tyd as president) seker gemaak het die stelsel werk nie behoorlik nie.”

Omdat sekere dele van die nuwe voorgestelde wetswysiging baie lomp is, glo hy nie die ANC sal die nodige meerderheid van twee derdes van die stemme kry om dit deur te voer nie.

“Die ANC het homself in ’n verknorsing en pres. Cyril Ramaphosa weet dit. Een van die goed waaroor hy nog spyt sal wees, is dat hy in die eerste fase van sy presidentskap die populistiese roete gevolg het.

“Ons weet in sy hart stem hy nie hiermee (onteiening sonder vergoeding) saam nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.