Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC wil nou krap aan jóú pensioen

Niks in die ANC se omvattende beleidsdokument oor die herstrukturering van die ekonomie is verrassend nie, maar daar is dit nou: Die regerende party se planne in swart op wit.

En dit fokus grotendeels daarop om die ekonomie deur infrastruktuurontwikkeling aan die brand te skop.

Die plan, waarna pres. Cyril Ramaphosa reeds telkens verwys het, is Vrydag bekend gemaak deur Enoch Godongwana, hoof van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se subkomitee oor ekonomiese transformasie.

Dit meld dat regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse gewysig moet word om finansiering vir infrastruktuurprojekte te kry; dat die Reserwebank volkome in besit van die staat moet wees; en dat grondhervorming op ’n groter skaal moet plaasvind.

Die woord “infrastruktuur” word 89 keer in die dokument gebruik.

Ons praat nog met die tesourie en pensioenfondse.

Daar word verwys na nuwe beleggings in energie, water, paaie, huise, digitale infrastruktuur en openbare vervoer.

Godongwana benadruk dat pensioenfondse nie gedwing sal word om in infrastruktuurprojekte te belê nie.

“Dit gaan eerder daaroor om aansporings aan pensioenfondse te gee om te belê. Ons kan wel nog nie besonderhede oor die aard van die veranderinge (aan die wetgewing) gee nie. Ons praat nog met die tesourie en pensioenfondse,” sê hy.

Luidens die dokument moet die proses voortgaan om art. 25 van die Grondwet te verander om grondonteiening sonder vergoeding makliker te maak.

Die dokument sê produksie op staatsgrond en grond wat in restitusie toegeken word, moet “aggressief” bevorder word.

Oor die ANC se oogmerke met die Reserwebank, sê die politieke ontleder prof. Dirk Kotzé die grondwetlike onafhanklikheid van die bank is luidens die dokument nie in die gedrang nie.

“Suid-Afrika is net een van sowat agt lande oor die wêreld heen wat private aandele in sy reserwebank toelaat en aandeelhouers het nie ’n sê in besluitneming nie. Amerika en al daardie lande se reserwebanke is volkome in staatsbeheer,” sê hy.

Kotzé meen die plan beteken nie die radikale ekonomiese groep in die ANC het die oorhand gekry nie.

Inteendeel, “dit is eerder die vingerafdrukke van pres. Cyril Ramaphosa en die ‘handjievol’ ekonome in die ANC wat duidelik op die dokument te sien is. Ons moet onthou, die hele ANC is nog verbonde aan dié party se resolusies wat op sy vorige beleidskonferensie gedoen is”.

“Daarom loop mense soos Tito Mboweni en Ramaphosa op dun ys en moet hulle sake mooi bestuur. Hulle kon dit met dié dokument regkry,” sê Kotzé.

Geordin Hill Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, sê daarenteen die dokument bevat net meer van dieselfde ou idees wat reeds die ekonomie vermink het.

“Hoe die staat dit (ekonomiese groei) met ’n leë tesourie, bankrot staatsondernemings, endemiese korrupsie en wanbestuur wil regkry, is onduidelik.”

Ander belangrike punte in die dokument sluit in:

  • Die woord “nasionalisering” word nie een keer gebruik nie;
  • ’n Voorstel word gedoen dat die staat sover moontlik plaaslik moet aankoop en dat verslag gedoen moet word oor die persentasie van aankope wat ingevoer word;
  • Daar word ook weer verwys na die landbouwaardeketting se belangrike rol om werk te skep;
  • Toerisme is belangrik en dit is daarom tyd om die oorskakeling na elektroniese visums af te handel. Mense van meer lande moet ook toegelaat word om sonder visums die land binne te kom; en
  • Daar word ook weer eens klem gelê op die noodsaak vir meer breëbandspektrum sodat datakoste vir huishoudings en ondernemings kan daal.
Meer oor:  Pensioen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.