Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC wil onteiening ‘vereenvoudig’

Die ANC glo grondonteiening sonder vergoeding moet “vereenvoudig” word.

Enoch Godongwana Foto: Daily Sun

Só het Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese transformasie, Woensdag op ’n mediakonferensie ná afloop van die vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee en lekgotla gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag in sy afsluitingstoespraak op die lekgotla in Pretoria opgemerk dat die party bemoedig voel omdat die lekgotla die aanbeveling gesteun het dat die mag om die bedrag vir vergoeding vir grondonteiening te bepaal by die uitvoerende gesag moet lê, en nie by die howe nie.

Die party se verklaring wat Woensdag op die mediakonferensie deur Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal voorgelees het, lui dat die lekgotla die aanbeveling ondersteun dat die mag om kwessies te bepaal wat met grondonteiening sonder vergoeding verband hou, by die uitvoerende gesag moet berus.

Godongwana, wat deel was van die ANC-afvaardiging by die mediakonferensie, het toe hy uitgevra is oor of dié kwessies ook die aspek van die bedrag van vergoeding insluit, gesê die ANC glo grondonteiening sonder vergoeding moet vereenvoudig word.

“Die besluit om grond sonder vergoeding te onteien moet by die uitvoerende gesag bly sodat ons nie lang prosesse van onteiening het nie. Dit gebeur nie in enige ander land nie. Dit mag dalk wees dat ’n individu wie se grond of eiendom onteien is gegrief is . . . in daardie omstandighede in ’n grondwetlike demokrasie kan daardie individu die besluit van die uitvoerende gesag op hersiening neem. Dit is die punt wat ons maak,” het Godongwana gesê.

Die ANC het ook sekere prioriteite ten opsigte van die grondkwessie vir die komende jaar bekragtig. Hieronder is:

* Die toekenning van grond aan kleinskaalse en opkomende boere wat reeds die grond bewerk, sowel as in gebiede waar daar uitsettings plaasgevind het;

* Herverdeling moet gebruik word om grondeisers te bevoordeel wat die 1998-afsnydatum (vir grondeise) misgeloop het. Daadwerklike pogings moet aangewend word om grondeisers aan te moedig om die grond, eerder as geldelike vergoeding, te kies;

* Verbeterde ondersteuningsmaatreëls vir mense ná vestiging op die grond sal toegepas word om te verseker dat die grond wat teruggegee en herverdeel is, produktief aangewend word; en

* Die ontwikkeling van swart boere sal voorkeur geniet deur middel van opleiding, die bou van kapasiteit, die voorsiening van gemengde finansiering en om weer te kyk na gelyke aandeleskemas en handelsooreenkomste met ander lande.

Die party het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om aktief deel te neem aan die naderende openbare vergaderings oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.

Ingevolge die voorgestelde wysigings, soos vervat in die 18de Konsepwysigingswetsontwerp op die Grondwet, moet sekere bepalings van art. 25 gewysig word om onder meer te lui dat ’n hof, waar grond of enige verbeteringe daarop onteien word vir die doelwitte van grondhervorming, mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Nog ’n voorgestelde wysiging is dat nasionale wetgewing onder meer die spesifieke omstandighede uiteensit waarin ’n hof mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Die publiek het tot 31 Januarie die geleentheid om kommentaar op hierdie voorstelle te lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.