Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Angela Merkel besoek SA volgende jaar
Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Saterdagmiddag aan die woord op die Duitsland-fees in Pretoria ter viering van die val van die Berlynse Muur 30 jaar gelede.Foto: Sarel van der Walt

Angela Merkel, die Duitse kanselier, sal Suid-Afrika vroeg in die nuwe jaar besoek.

Op sy beurt sal pres. Cyril Ramaphosa ook volgende jaar ’n besoek aan Duitsland bring.

Só het Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Saterdagmiddag op die Duitse ambassade se Duitsland-fees in die Pretoriase middestad gesê.

Die val van die Berlynse muur op 9 November 1989, 30 jaar gelede, is by dié geleentheid gevier.

Creecy het die Suid-Afrikaanse regering by die feesvieringe verteenwoordig

Sy sê Ramaphosa en Merkel het ’n goeie werkverhouding.

Duitsland werk ook ten nouste met Suid-Afrika saam wat op die oomblik ’n nie-permanente lid van die veiligheidsraad van die Verenigde Nasies is.

Die val van die Berlynse muur het gelei tot die vereniging van die eertydse Oos- en Wes-Duitsland.

“Op 27 April 1994 het Suid-Afrika se eie ‘muur’ geval met die einde van apartheid. Albei gebeurtenisse het aan ons gewys dat geen hindernisse, fisiek of geestelik, te groot is om te oorbrug nie.

“Duitsland en Suid-Afrika het hindernisse oorbrug wat in ’n stadium gelyk het onmoontlik is.”

Sowat 600 Duitse maatskappye het belange in die land en verskaf werk aan sowat een miljoen Suid-Afrikaners.

’n Steltloper by die Duitsland-fees gesels met kinders.Foto: Sarel van der Walt

Dr. Martin Schäfer, die Duitse ambassadeur.Foto: Sarel van der Walt
Herbert Behrendt (voor), ’n diplomaat van die Duitse ambassade, aan die woord tydens ’n paneelbespreking op die Duitsland-fees in Pretoria. Agter hom is prof. Tilman Dedering, ’n historikus van Unisa. Foto: Sarel van der Walt

Suid-Afrika is Duitsland se grootste handelsvennoot in Afrika.

Groot Duitse maatskappye soos Siemens, Volkswagen, BMW en Mercedes-Benz het uitgebreide belange in die land.

Dr. Martin Schäfer, die Duitse ambassadeur, sê die val van die muur het as ’n verrassing gekom. “Niemand het dit verwag nie. Dit het gewys dinge gebeur wanneer die tyd daarvoor ryp is.”

Die val van die muur het begin nadat die Oos-Duitse regering ná groot druk onverwags aangekondig het hy sal sy burgers toelaat om te reis.

Vir 40 jaar is hulle nie toegelaat om vrylik te beweeg nie. Selfs nie eens na hul landgenote in Wes-Duitsland nie.

Binne enkele ure ná die aankondiging op ’n mediakonferensie het duisende Oos-Duitsers deur die Brandenburg-hek in Berlyn gestroom, waar duisende Wes-Berlyners hulle vriendelik ontvang het.

Dié gebeurtenis het gelei tot die vereniging van Wes- en Oos-Duitsland op 3 Oktober 1990.

“Ons was een nasie, al het ons twee verskillende state gehad. Ons taal was dieselfde, ons kultuur was dieselfde. Tog het die skeiding ’n letsel gelaat. Daar was twee soorte mentaliteite in die ooste en die weste.

“Ons het ’n lang pad gekom om dit te oorkom, om die ongelykhede en ongeregtighede te oorkom. Hoewel die ooste baie ingehaal het, is daar steeds verskille in die lewenstoestande van die mense in die ooste en die weste. Daar is ook steeds verskille in die mentaliteit.

“Die les wat Suid-Afrikaners hieruit moet leer, is dat hulle geduldig moet wees omdat dit tyd neem om waarlik ’n enkele nasie te wees,” maan Schäfer.

Herbert Behrendt, wat aan die Duitse ambassade in Pretoria verbonde is, het 30 jaar gelede die boodskap aan Helmut Kohl, toe die Wes-Duitse kanselier, oorgedra oor die dramatiese aankondiging van die Oos-Duitse regering se besluit.

Behrendt was een van die paneellede wat deelgeneem het aan ’n paneelbespreking oor die belangrikheid van die val van die Berlynse muur in die Duitse geskiedenis.

Tali Nates, direkteur van die Johannesburg Holocaust and Genocide Centre, het gesê kwessies soos rassisme en vreemdelingehaat wat in Duitsland en Suid-Afrika voorkom, moet getakel word voordat dit te laat is.

“Kwessies soos dié verdwyn nie bloot nie.”

Meer oor:  Angela Merkel  |  Duitsland-Fees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.