Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANN7-man sê hy het TV-kanaal vir ‘die mafia’ geskep

Die Guptas het ’n Nepalese man in Johannesburg as slaaf aangehou om etes te maak en klere te was, sonder om hom in Suid-Afrika ’n sent te betaal om hier te kan uitgee.

Dit is van die getuienis van Rajesh Sundaram, ’n voormalige redaksionele konsultant van African News Network (ANN7) van Indië, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping oor hoe die Guptas die ANN7-nuuskanaal tot stand gebring het.

Hy het na Suid-Afrika gekom om te help om ANN7 te begin.

Rajesh Sundaram Foto: Skermgreep

Sundaram het Maandag getuig dat hy deur Laxmi Goel, sakevennoot van die Guptas, meegedeel is dat sy visum en werkpermit heeltemal wettig is en dat die regte prosedure gevolg is om dit te kry. Later het hy besef dit is nie so nie.

Hy sê dat hy in Suid-Afrika na ’n gastehuis gebring is wat soos ’n “werkerskamp’’ gelyk het. Dit was in Midrand.

Hy het ’n Nepalese man daar aangetref wat al die ander werkers uit Indië, wat aan die konstruksie vir ANN7 se ateljee gewerk het, se maaltye moes kook en hul wasgoed moes was. Die man se salaris is in ’n buitelandse rekening aan sy oom in Nepal betaal.

Sundaram sê die toestande was haglik en die man het nie ’n enkele sent gehad om iets in Suid-Afrika mee te koop nie.

Daar was hope klere wat op die badkamervloer gelê het.

Sundaram getuig dat sy visumaansoek as ’n intermaatskappy-verplasing vanuit Indië na Suid-Afrika gehanteer is. Sundaram het egter nie vir Infinity Media, mede-eienaar van Oakbay Investments, wat aan die Guptas behoort, in Indië gewerk nie. Daar het nie so ’n entiteit in Indië bestaan nie.

Sundaram, wat ook die boek Indentured: Behind the Scenes at Gupta TV oor die televisiekanaal geskryf het, het spesiaal na Suid-Afrika gereis om voor adjunkhoofregter Raymond Zondo te getuig.

Hy het gesê dit was die hartseerste en mees depressiewe tyd van sy lewe en dit was alles Ajay en Atul Gupta se skuld, wat net geld wou maak.

Daar was vier vergaderings met oudpres. Jacob Zuma waaroor Sundaram Maandag getuig het.

Vir die eerste vergadering het die oudpresident tyd afgeknyp wat hy met ministers moes bestee, om eerder met die Guptas te vergader.

Sundaram sê die grootste fout van sy lewe was om vir die Guptas te gaan werk. Dit was soos om vir die mafia te werk. Hy het ’n TV-stasie vir die mafia begin, getuig Sundaram.

Met die tweede vergadering was daar van Zuma se familielede by sy huis, en hy het hulle gelos om eerder met die Guptas te vergader.

Sundaram getuig dat ANN7 eerder as ’n propaganda-kanaal vir die ANC opgestel moes word as ’n gebalanseerde nuuskanaal.

Vir Sundaram was dit vreemd dat Zuma so betrokke was by ANN7.

Dit is in die algemeen in die ANN7-kantoor bespreek dat Zuma sal help dat daar staatsadvertensies by ANN7 geplaas word en dat Duduzane, ’n seun van Zuma, ’n deel van die inkomste sal terugkry omdat hy ’n aandeelhouer in ANN7 is.

Sundaram sê dit was vir hom ’n botsing van belange dat Zuma as president by ANN7 betrokke was.

Daar was byvoorbeeld groot ontevredenheid onder die Guptas omdat die Verkiesingskommissie (OVK) so ’n groot begroting vir advertensies gehad het, maar nie in die Guptas se koerant, The New Age, geadverteer het nie.

Volgens Sundaram het die Guptas by Zuma hieroor gekla in een van die vergaderings en Zuma het gesê hy sal kyk wat hy kan doen.

Sundaram getuig verder dat die Waterkloof-lugmagbasis-skandaal nie deur die Guptas en Zuma ernstig opgeneem is nie en dat hulle laggend daarna verwys het.

Sundaram sê die grootste fout van sy lewe was om vir die Guptas te gaan werk. Dit was soos om vir die mafia te werk. Hy het ’n TV-stasie vir die mafia begin, getuig Sundaram.

Hy sê om voor die Zondo-kommissie te kom getuig help hom om afsluiting te kry. Hy het in die laaste paar dae gevrees vir sy familie en kinders se lewe, maar hy voel nou beter omdat hy kom getuig het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.