Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Appèlhof: Regter verbaas oor verhoudinge glo toksies is

Hy het die afgelope paar dae met groot verbasing verneem van bewerings oor “toksiese verhoudinge” by die appèlhof.

Regter Johannes Eksteen van die Oos-Kaapse hooggeregshof het Woensdag aan die Regterlike Dienstekommissie (RDK) gesê hy het nog nooit ’n “toksiese ervaring” by die appèlhof gehad waar hy etlike kere as regter waargeneem het nie.

“Die hof het volgens my nog altyd goed gefunksioneer,” het hy aan die RDK gesê.

Eksteen het sy onderhoud voor die RDK gehad vir vakante poste in die appèlhof.

Hy het gesê hy verskyn nie voor die kommissie om die lede te oortuig dat hy die beste kandidaat vir die vakante poste is nie.

Regter Johannes Eksteen van die Oos-Kaapse hooggeregshof met sy onderhoud Woensdag. Foto: Twitter/SA Judiciary

“Daar is op die lys van kandidate vir die beskikbare poste baie intelligente mense met ’n regsbrein,” het hy gesê. Eksteen het 11 jaar ervaring as ’n regter in die hooggeregshof.

Bewerings is Dinsdag en Woensdag voor die kommissie gemaak dat senior regters, die sogenaamde topses by die appèlhof, neergesien het op junior regters.

“In my jare daar is ek nog nooit blootgestel aan sulke disrespek onder die regters nie,” het hy gesê. Eksteen het sedert 2015 vyf keer as regter in die appèlhof waargeneem.

Lutendo Sigogo, president van die Black Lawyers Association (BLA), wou Woensdag van Eksteen weet of dit moontlik is dat hy nie bewus was van die toksiese verhoudinge nie. “Is dit dalk omdat jy ’n wit man is en dat diegene wat die disrespek verduur het, swart vroue is?” wou Sigogo weet.

“Soos ek gesê het, ek is nie bewus van enige toksiese verhoudinge nie. Ek kan egter nie sê of bespiegel hoe ander regters en kollegas voel nie. Dit is vir my net verbasend,” het Eksteen gesê.

Eksteen is gevra of hy bewus is van wie die sogenaamde topses is.

Eksteen het gesê volgens hom is dit die ses mees senior persone in die appèlhof.

Soos ek voorheen aangedui het, ek is nie hier om vir julle te vertel ek is die beste nie. Ek glo in die werk van die kommissie en ek het nog altyd goed met al my kollegas oor die weg gekom, maak nie saak van watter kultuur hulle is nie.

“Dit is algemene kennis en bekend aan die publiek. As julle na ander mense verwys, weet ek nie na wie julle verwys nie,” het hy gesê.

Volgens Eksteen is die werksomgewing in die appèlhof die afgelope 18 maande baie meer ontspanne as voorheen.

Julius Malema, leier van die EFF, wou Woensdag van Eksteen weet waarom hy so “ontmoedig” voorkom. “Dit is asof jy dink dat die kommissie teen wit mans is,” het Malema aan hom gesê.

“Soos ek voorheen aangedui het, ek is nie hier om vir julle te vertel ek is die beste nie. Ek glo in die werk van die kommissie en ek het nog altyd goed met al my kollegas oor die weg gekom, maak nie saak van watter kultuur hulle is nie,” het Eksteen in sy reaksie gesê.

“So, jy kom maar net so (mismoedig) voor as mens?” wou Malema weet. “Wat jy sien, is wat jy kry,” het Eksteen gesê. Malema is toe ingelig dat Eksteen ’n introvert is.

Eksteen is een van 11 kandidate vir vyf beskikbare poste in die appèlhof wat voor die RDK verskyn.

Die ander regters is Zeenat Carelse, Trevor Gorven, Wendy Hughes, Petrus Koen, Aubrey Ledwaba, Nolwazi Mabindla-Boqwana, Keoagile Matojane, Selewe Mothle, Owen Rogers en Sharise Weiner.

Die onderhoude duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.