Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Arresteer en verhoor Mkhize,’ sê VF Plus

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, moet gedwing word om aan die parlement verantwoording te doen oor sy beweerde rol in die Digital Vibes-tenderskandaal.

Dr. Zweli Mkhize Foto: Daily Sun

Dit was Sondag die mening van Philip van Staden, VF Plus-LP, wat ook gesê het dat hy die aangeleentheid steeds voor die portefeuljekomitee oor gesondheid sal dryf.

“As hy steeds weier, moet Mkhize aangekla en vervolg word. Die reg moet dan sy gang gaan en hy moet dan die prys daarvoor betaal.”

Netwerk24 het Vrydag berig die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het in ’n verdoemende beëdigde verklaring voor die spesiale tribunaal aangevoer dat Mkhize en sy seun Dedani strafregtelik aanspreeklik gehou moet word vir hul rol in dié tenderkwessie. In die aansoek sê die SOE dat Mkhize en sy familie sowat R4 miljoen moet terugbetaal in verband met die tender.

Mkhize is op spesiale verlof.

Die SOE het Saterdag in ’n verklaring ook teruggekap ná uitlatings van Dedani wat glo die “integriteit en geloofwaardigheid” van die SOE in twyfel trek.

Dedani het luidens die verklaring beweer dat hy nooit die geleentheid gegun is om sy naam in ere te stel of om hofstukke by die spesiale tribunaal in te dien nie, en dat die SOE sy bevindings op koerantberigte grond.

“Mnr. Mkhize erken dat hy geld ontvang het van Tahera Mather, een van die sleutel-individue in die bestuur van die kommunikasiemaatskappy (Digital Vibes), wat ’n R150 miljoen-kontrak (van die departement van gesondheid) gekry het om 'n Covid-19-mediaveldtog te voer.

“Ons verwerp mnr. Mkhize se kommentaar dat ons vooraf oor die aangeleentheid besluit het. Die SOE sal altyd sy werk met integriteit en sonder vrees of begunstiging doen,” het Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder, Saterdag in die verklaring gesê.

Dedani is ’n respondent in die aansoek voor die spesiale tribunaal.

Arrestasie en verhore moet nou Mkhize se voorland wees.

In die SOE-aansoek is Mkhize en sy seun se name op die lys van 20 mense aan wie Digital Vibes glo R90 miljoen van die kontrak van R150 miljoen betaal het.

Die SOE meen die kontrak is onwettig toegeken en moet tersyde gestel word.

Van Staden het Sondag beweer dat dit volgens die SOE se hofstukke “duidelik is dat Mkhize wel betrokke was by korrupte aangeleenthede, en die departement onder druk geplaas het om wel die geld aan Digital Vibes uit te betaal, selfs nadat die tesourie hom gekeer het en hulle nie eens self die betaling wou doen nie”.

“Arrestasie en verhore moet nou Mkhize se voorland wees.”

Hy sê die VF Plus sal nie rus voordat die skuldiges agter tralies is nie.

Van Staden meen pres. Cyril Ramaphosa moet ook gedruk word om die volle SOE-verslag openbaar te maak.

Ramaphosa het egter Donderdag in Midrand gesê dat dit gedoen sal word sodra ’n paar uitstaande kwessies in verband daarmee uit die weg geruim is.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, het Sondag gesê Ramaphosa is traag om teen Mkhize op te tree omdat hy sy steun benodig om volgende jaar vir ’n tweede termyn as ANC-president verkies te word.

“Ramaphosa se steun in die ANC in KwaZulu-Natal is problematies, veral ná die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma en die onlangse opstande daar wat ’n etniese Zoeloe-karakter aangeneem het.”

Benewens Mkhize het Ramaphosa nie baie ander sterk bondgenote in die ANC in KwaZulu-Natal wat sy steun daar kan uitbou nie, meen Duvenhage.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.