Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Arthur Fraser kla Zondo-getuienis maak van hom ’n teiken
Arthur Fraser Foto: Jaco Marais

Arthur Fraser, voormalige direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), sê hy en sy gesin is nou ná die getuienis Dinsdag voor die Zondo-kommissie blootgestel en ’n teiken vir die publiek.

Die getuienis het gehandel oor R109 miljoen wat na bewering tydens Fraser se tyd as die rekenpligtige amptenaar van die agentskap by die SVA verdwyn het en R9 miljard se bates waarvan nie rekenskap gegee kan word nie.

Fraser se regsverteenwoordiger, Rapulane Kgoroeadira, het Woensdagoggend, voordat die dag se getuienis deur die kommissie geroep is, gesê hoewel Fraser se naam nie Dinsdag in die getuienis van die huidige waarnemende direkteur-generaal (DG), Loyiso Jafta, genoem is nie, was daar mediaberigte waarin genoem is dat die persoon na wie verwys word, Fraser is.

Kgoroeadira het gesê Jafta het getuig daar kon nie van R9 miljard se bates rekenskap gegee word deur die SVA nie en dat dit aan die voormalige rekenpligtige amptenaar toegeskryf kan word. Later Dinsdag is in ’n berig genoem dat Fraser dié amptenaar was.

Kgoroeadira het daarop gewys dat adjunk-hoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, in reaksie op Jafta se getuienis wou weet hoe ’n staatsagentskap nie van soveel geld rekenskap kan gee nie, en ook gesê geen koppe het waarskynlik daaroor gerol nie.

Volgens Kgoroeadira word Fraser nou as ’n “vyand van die land” uitgemaak en dat dit hom en sy gesin blootstel en van hulle ’n teiken maak.

Dit is nou drie jaar nadat Fraser, wat nou kommissaris van die departement van korrektiewe dienste is, by die SVA weg is en volgens Kgoroeadira is dit die eerste keer dat hy dié aantygings hoor. Hy het gesê Jafta het niks aan dié bewerings gedoen sedert hy as waarnemende DG by die agentskap aangestel is nie.

Nog getuienis sal gelewer word oor Jafta se bewering dat die R109 miljoen glo verdwyn het.

Adv. Paul Pretorius SC, getuienisleier van die kommissie, het geargumenteer dat Fraser die geleentheid het om Jafta te kruisondervra en sy kant van die saak te stel, en dat hy by die kommissie kan aansoek doen om dit te doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.