Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘As jy vrae vra, sou jy geskors word’

Die destydse raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), onder voorsitterskap van Dudu Myeni, sou misdrywe fabriseer om werknemers te skors wat die raad se optrede bevraagteken het.

Dít vorm deel van die getuienis van Cynthia Stimpel, voormalige groeptesourier van die SAL en korrupsieverklikker, Vrydag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg.

Stimpel, wat ook Donderdag voor die kommissie verskyn het, is self glo in 2016 sonder geldige redes geskors omdat sy wou uitpraat oor onreëlmatighede in verband met ’n finansieringstender vir die SAL.

’n Moontlike ooreenkoms het egter deur die mat geval omdat die VOK nie die mandaat het om geld aan ander staatsentiteite te leen nie.

Die SAL het die tender in 2015 uitgereik om ’n R15 miljard-lening te bekom. Hy wou die geld gebruik om homself op lang termyn finansieel volhoubaar te maak.

Die SAL het die gunstelingkandidaat vir die tender, Seacrest Investments, se bod van die hand gewys sodat die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VOK) om duistere redes ’n bod kon indien. ’n Moontlike ooreenkoms het egter deur die mat geval omdat die VOK nie die mandaat het om geld aan ander staatsentiteite te leen nie.

Die SAL het toe besluit om ’n tender ten duurste aan BnP Capital vir finansiële raad toe te ken. Die omvang van die tender is toe egter onregmatig vergroot sodat BnP as middelman kon optree om die finansiering te bekom.

Luidens ’n voorlopige ooreenkoms sou BnP Capital suksesgeld van meer as R200 miljoen ontvang vir werk wat die SAL se tesourie volgens Stimpel self kon doen.

Stimpel het die dokument, wat die ooreenkoms tussen die SAL en BnP Capital vervat, uit die kantoor van ’n kollega geneem omdat sy dié stawende dokument aan die Organisasie vir Belastingmisbruik (Outa) wou oorhandig.

“Ek het ’n risiko geneem deur uit te praat en het geweet deur dit te doen, sou ek dalk my werk verloor. Maar ek kon nie net sit en toekyk hoe dinge gebeur wat nie reg is nie,” het Stimpel getuig.

Ek het ’n risiko geneem deur uit te praat en het geweet deur dit te doen, sou ek dalk my werk verloor.

Kort daarna het Phumeza Nhantsi, toe die waarnemende finansiële hoof, Stimpel ingelig dat sy hangende ’n tugverhoor onmiddellik geskors is.

Stimpel beweer sy het in die tenderproses verskeie kere haar kommer teenoor Nhantsi uitgespreek, maar dié het haar nie daaraan gesteur nie. Nhantsi sal later self voor die kommissie getuig.

Nhantsi is in 2018 ná ’n tugverhoor geskors.

Adjunk-hoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie lei, het aan Stimpel gesê uit vorige getuienis oor ander staatsondernemings lyk dit asof mense as struikelblokke gesien is wanneer hulle teenstand teen korrupsie gebied het. Baie van hulle is sonder geldige redes geskors.

Stimpel sê sy weet van minstens nog twee mense wat geskors is nadat hulle die bestuur oor onreëlmatighede gekonfronteer het.

“Jy is eers geskors en dan is die gefabriseerde aanklagte aan jou gegee. Dit lyk asof dit ’n patroon was – as jy vrae gevra het, sou jy geskors word,” het Stimpel getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.