Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ATM, Ace in oudpres. se visier

Pres. Cyril Ramaphosa is duidelik besig om sy mag in die ANC te konsolideer ná die verkiesing in Mei, sê politieke ontleders.

Dit het bekend geword dat die party se nasionale werkkomitee (NWK) besluit het oudpres. Kgalema Motlanthe moet ondersoek instel na die moontlikheid dat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, betrokke was by die stigting van Mzwanele Manyi se African Transforma­tion Movement (ATM).

Ace Magashule

Volgens News24 het Magashule glo selfs volgens bronne voorgestel dat die party se naam die woord “Movement” insluit.

Volgens News24 is bewyse van Magashule se betrokkenheid al voor die verkiesing op 8 Mei aan die ANC oorhandig.

Magashule wil glo graag hê die ondersoek moet voortgaan sodat hy “sy naam kan suiwer”.

’n NUK-lid het glo gesê Maga­shule is gevaarlik vir die ANC en hy meen die plan was om die ATM se steun te gebruik om met die ANC te onderhandel, berig News24.

Magashule se naam word ook saam met dié van oudpres. Jacob Zuma en Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, verbind met ’n poging om ontslae te raak van Ramaphosa.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga sê Ramaphosa gebruik dieselfde strategie as wat hy gebruik het om die gety te laat draai teen korrupsie in staatsinstellings deur kommissies van ondersoek aan te stel.

“Die president sal vir seker voordeel daaruit trek as mense soos Magashule ’n teiken word. Hy sal dan minder mense hê om hom oor te bekommer.”

Die nuus oor die party se ondersoek na Magashule kom teen die agtergrond van Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, se uitlating die naweek op die provinsiale uitvoerende komitee se vergadering dat geen ANC-leier volgende jaar op die party se nasionale algemene raadsvergadering verwyder sal word nie.

Hierdie versekering het gekom te midde van bespiegeling dat Ramaphosa se teenstanders dié raadsvergadering kan gebruik om die president te herroep.

Pule Mabe, nasionale woordvoerder van die ANC, het Dinsdag gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie.

Die NWK se besluit volg op ’n vroeëre besluit van die NUK dat die ondersoek gedoen moet word. Dit is ook dié komitee wat Motlanthe aangewys het om die ondersoek te lei.

’n Ingeligte het aan News24 gesê die ondersoek behels nie net die ATM nie, maar al die klein, nuwe partye om te kyk of “kamerade ’n rol daarin gespeel het”.

Ingevolge die ANC se grondwet moet die NWK ook verseker dat die provinsies, streke en takke van die ANC, ook parlementêre koukusse, die party se besluite uitvoer.

Dr. Somadoda Fikeni, nog ’n politieke ontleder, sê die ondersoek na Magashule kan beskou word as ’n teken dat Ramaphosa sy posisie in die ANC versterk om sodoende ’n greep op die mag te kry. “Hy doen dit beslis. Dit sal ’n stadige proses wees, maar hy gaan dit op die wettige manier doen.

“Dit is omtrent tyd dat die ANC-strukture begin aandag gee aan al die bewerings.

“Dit lyk of die ANC gaan begin wys dat hy ’n leier nie gaan toelaat om te maak soos hy wil nie,” sê Fikeni.

Vuyolwethu Zungula, president van die ATM, het Dinsdag gesê die pogings om Magashule te verbind met dié party is niks anders nie as stigmatisering van die ATM, wat in die verkiesing twee setels in die parlement gekry het.

“Sedert ons stigting verlede jaar was daar nog geen bewyse wat Zuma, Magashule of enige ander ANC-leier met die party verbind nie.

“Mense doen dit sodat die kiesers die party nie ernstig moet opneem nie.”

Pule Mabe, nasionale woordvoerder van die ANC, het Dinsdag gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Mzwanele Manyi  |  Politiek  |  Anc  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.