Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Augustus lui die klokke vir e-tol
Fikile Mbalula, minister van vervoerFoto: Jabulani Langa

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Maandag gesê ’n aankondiging oor die e-tol-kwessie, wat vir die Gauteng-snelwegverbeteringsprojek (GFIP) moet betaal, sal in Augustus gedoen word.

Hy het egter nie oor die besonderhede uitgewei nie.

“Teen Augustus sal ons terugkom en e-tol takel. Daar gaan wisselwerking met die president (Cyril Ramaphosa) wees en ons sal in Augustus aankondig (wat gaan gebeur),” het Mbalula telefonies aan Netwerk24 gesê.

Mbalula se opmerkings kom teen die agtergrond van Ramaphosa se noodgedwonge ingryping in die Twitter-oorlog wat tussen Tito Mboweni, minister van finansies, en David Makhura, premier van Gauteng, oor die skrapping van e-tol losgebars het. Mboweni het aan Makhura gesê dat die stelsel, ingevolge waarvan die gebruiker vir die GFIP moet betaal, bly staan. Dit nadat Makhura in sy onlangse provinsiale rede onderneem het om e-tol te laat skrap.

Tito Mboweni, minister van finansiesFoto: Deaan Vivier

“Die president het aandag daaraan gegee en die saak is nou 'ter ruste' gelê. Die president het gepraat,” het Mbalula oor die Twitter-oorlog gesê.

Ramaphosa het die naweek in ’n verklaring gesê dat die Twitter-twis tussen Mboweni en Makhura “betreurenswaardig” is en het die noodsaaklikheid benadruk dat die twee, saam met Mbalula, moet werk aan ’n oplossing vir dié skaakmatsituasie. Hulle moet dan teen einde Augustus aan hom verslag doen.

Ramaphosa het die drie ook versoek om voor die einde van Augustus voorstelle aan die kabinet voor te lê oor hoe die e-tol-kwessie opgelos kan word.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het Maandag gesê die twis tussen Mboweni en Makhura versterk hul vasbeslotenheid om toe te sien dat e-tol geskrap word.

David Makhura, premier van GautengFoto: Mary-Ann Palmer

Outa het Maandag onder meer voorgestel dat die skuld vir die GFIP op dieselfde manier gefinansier moet word as wat Sanral die meer as 18 000 km van sy nie-tol-padnetwerk finansier – met toedelings deur die tesourie.

“As dit van die begin af gedoen is, sou die kapitaalwaarde van die projek al betaal gewees het. Die regering se vasbeslotenheid om ’n hoogs ondoeltreffende en irrasionele skema te legitimiseer het gelei tot miljarde rand se skuld vir Sanral,” sê Outa in ’n verklaring.

Solly Msimanga, die DA se koukusleier in Gauteng, sê sy party sal voortgaan om Mbalula se belofte te monitor en sou niks teen Augustus materialiseer nie, sal die DA aktief stappe doen om ’n interregeringsdispuut te verklaar om e-tol te skrap.

“Die mense van Gauteng kan nie aanhou om so in onsekerheid te lewe nie. Ons moet ’n duidelike antwoord kry oor wanneer die tolpoorte gaan afkom. As daar niks gebeur nie, sal ons druk vir ’n interregeringsdispuut,” sê Msimanga.

Castro Ngobese, Makhura se woordvoerder, was nie vir kommentaar beskikbaar nie en so ook nie Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, nie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  David Makhura  |  Fikile Mbalula  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.