Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Baantjies vir boeties haal ANC in’

’n Verslag van die ouditeur-generaal (OG) wat aandui dat net 33 van die 257 munisipaliteite in Suid-Afrika skoon oudits gekry het, bevestig dat die ANC se “beleid van baantjies vir boeties hom vinnig inhaal”.

So sê die VF Plus wat Woensdag saam met die regering en ander opposisiepartye die party se diepe kommer en misnoeë uitgespreek het oor die algehele verval en agteruitgang van munisipaliteite.

Kimi MakwetuFoto: Lisa Hnatowicz

Kimi Makwetu, OG, het sy ouditverslag vir munisipaliteite vir die 2016-’17-boekjaar bekend gemaak.

Vincent Smith, ANC-LP en voorsitter van die parlement se staande komitee oor die OG, het gesê die OG sal binnekort “meer byt” kry danksy die wysigings wat die parlement Dinsdag aan OG-wetgewing aanvaar het.

Dít sal die OG glo meer mag gee om regstreeks teen oortreders in munisipaliteite op te tree deur hulle by die Valke of ander wetstoepassers aan te kla.

Die OG sal ook bemagtig word om skuldsertifikate aan amptenare in munisipaliteite uit te reik om onreëlmatige uitgawes persoonlik van hulle te verhaal.

Die ouditverslag wys dat onreëlmatige uitgawes in munisipaliteite met 75% van R16,2 miljard in die vorige boekjaar tot R28,3 miljard in 2016-’17 gestyg het.

Die Oos-Kaap is vir R13,5 miljard se onreëlmatige uitgawes verantwoordelik.

Luidens die ouditverslag het 45 munisipaliteite se ouditverslae verder verswak, ondanks die feit dat munisipaliteite gesamentlik sowat R2 miljard aan konsultante bestee het. Net 16 munisipaliteite se geldsake het verbeter.

Die OG het ook sy diepe kommer uitgespreek omdat sy personeel al hoe meer deur amptenare gedreig of geïntimideer word om oudits in hul guns te swaai.

Uit die agt metropolitaanse munisipaliteite het net Buffalo City (Oos-Londen) se ouditverslag verbeter, terwyl dié van Kaapstad en Mangaung verswak het.

Volgens Makwetu toon die verslag ook hoe munisipaliteite steeds dieselfde aanspreeklikheid- en bestuursprobleme ervaar wat sy kantoor al in 2011-’12 as probleemgebiede uitgewys het, maar dat daar vyf jaar later geen betekenisvolle veranderinge is nie.

“Die kommerwekkendste is dat konsekwente en dringende oproepe vir strenger hantering van die gevolge nie in ag geneem is nie.”

Luidens die verslag het munisipaliteite in die DA-beheerde Wes-Kaap die beste gevaar met 21 van die 30 munisipaliteite wat skoon oudits gekry het.

In KwaZulu-Natal was daar ses skoon oudits, die Oos-Kaap twee, Mpumalanga twee, Gauteng een en in die Noord-Kaap een.

Die Vrystaat, Noordwes en Limpopo het geen skoon oudits gekry nie. Die OG beveel dringende ingrypings daar aan.

Uit die agt metropolitaanse munisipaliteite het net Buffalo City (Oos-Londen) se ouditverslag verbeter, terwyl dié van Kaapstad en Mangaung verswak het. Die res het nie verander nie.

“Hoewel ses metro’s ongekwalifiseerde finansiële state verskaf het, het net 50% geloofwaardige prestasieverslae en het almal materiële nievoldoenings aangedui.”

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê Mkhize moet dringend finansiële herstelplanne in die 83 swakste munisipaliteite instel.

Dr. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê hy het sedert Februarie verskeie stappe met die Back to Basics-projek ingestel om te help om munisipaliteite se ouditverslae te verbeter. Hy het ook die private sektor en swart professionele mense se steun gevra om sukkelende munisipaliteite te help.

Sivuyile Mbambato, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging (Salga), het gesê hul oudit-ondersteuningsprogramme sal versterk word. Daar sal ook ingegryp word om te verseker dat munisipaliteite sterk aanspreeklikheids- en gevolge-bestuur kan toepas.

Wouter Wessels, die VF Plus se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê “munisipaliteite se fonteine loop vinnig leeg weens korrupsie, swak finansiële bestuur en onbevoegde amptenare”.

Hy skryf die swak ouditverslae toe aan die ANC-regering se “wanbestuur, verkeerde prioriteite en magsmisbruik”.

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê Mkhize moet dringend finansiële herstelplanne in die 83 swakste munisipaliteite instel.

Meer oor:  Kimi Makwetu  |  Anc  |  Ouditeur-Generaal (Og)  |  Politiek  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.