Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Baie vrae in Davos oor Eskom, fiskale beleid – Tito
tito mboweni
Tito Mboweni

Hy het vrae oor Eskom en Suid-Afrika se fiskale stabiliteit beantwoord, maar oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wou Tito Mboweni, minister van finansies, Vrydag op ’n mediakonferensie by die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in Davos, Switserland, nie praat nie.

Die SAL is tans onder sakeredding.

Mboweni het aan joernaliste wat vrae oor die SAL gevra het, gesê hy sal later met hulle praat.

Die minister van finansies sê die sake waaroor hy en die Suid-Afrikaanse afvaardiging die meeste uitgevra is, was oor Eskom en die land se fiskale volhoubaarheid.

Mboweni sê hy het aan diegene wat hom oor Eskom uitgevra het, gesê hy glo André de Ruyter, die nuwe uitvoerende hoof, het al gewys hy het “die visie en die energie” om Eskom te lei.

Eskom se probleme sal egter nie oornag opgelos kan word nie.

Die minister het met verwysing na die onsekerheid oor Eskom gesê hy meen die kabinet moes sy nuwe omvangryke energiebeleid beter gekommunikeer het.

Patrice Motsepe, voorsitter van African Rainbow Minerals, saam met Tito Mboweni, minister van finansies, en Naledi Pandor, minister van internasionale verhoudinge, in Davos by die WEF. Die foto is op Twitter deur die regering gedeel.

Mboweni was op die mediakonferensie, wat regstreeks op die internet uitgesaai is, vergesel van dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, en Jacko Maree, ’n beleggingsgesant van pres. Cyril Ramaphosa.

Maree het gesê daar is baie geleenthede vir beleggers om te belê in hernieubare energie in Suid-Afrika.

Omdat Suid-Afrika met baie ander lande om beleggings meeding, is dit nodig dat hy sy spelpeil verhoog.

Oor die land se fiskale volhoubaarheid het Mboweni gesê die land se skuld word bestuur. Hy sal met sy begrotingsrede op 26 Februarie meer besonderhede gee oor wat die land doen om fiskaal volhoubaar te wees.

Mboweni het gesê die kabinet is baie bewus van die belangrikheid van die strukturele hervorming van die ekonomie, maar “lang gesprekke met die vakbonde” is nog nodig omdat daar goed is waarmee hulle nie saamstem nie.

Tito Mboweni in Davos, Switserland.Foto: Twitter

“Strukturele hervorming geskied ongelukkig nie binne ’n maand of twee nie. Dis ’n proses. Die ‘trein’ beweeg reeds en dit is bemoedigend,” het hy gesê.

Mboweni sê die ministers van finansies van oor die wêreld heen het met mekaar vergader, maar hy wou nie meer besonderhede daaroor gee nie omdat die gesprekke ingevolge die sogenaamde Chatham House-reëls, wat vertroulikheid verseker, geskied het.

Hy het gewaarsku mense moenie verwag die besoek aan Davos sal oornag nuwe beleggings na Suid-Afrika lok nie.

“As jy dink jy kom hierheen en jy gaan terug huis toe met ’n klomp beleggings in die sak, is jy op die verkeerde plek.

“Ek kom al sedert 1991 Davos toe. Hier ruil ons idees uit, debatteer oor ekonomiese sake en sluit vriendskappe wat later kan lei tot beleggings,” sê Mboweni.

Pandor sê baie van die mense met wie sy in Davos gepraat het, het aan haar gesê dat hulle al Suid-Afrika besoek het.

Sy sê sy het aan Mboweni gesê die land moet meer belê in toerisme. “Van die toeriste wat al hier was, sê hulle was beïndruk met die infrastruktuur wat ons het. Dit kan van hulle later laat besluit om hier te kom belê.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.