Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Baloyi ‘ongemaklik in groep wat apartheid omhels’
Bongani Baloyi. Foto: Deon Raath

Bongani Baloyi, burgemeester van die DA-beheerde stadsraad van Midvaal, het die gedrag van sommige optoggangers buite Meyerton veroordeel omdat hulle ooglopend “apartheid omhels” het.

Baloyi, wat Maandagoggend by die protesaksie opgedaag het om ’n “waardevolle veldtog” te ondersteun, het ná die tyd op Facebook geskryf hy het nog nooit so ongemaklik gevoel nie.

Hy skryf mense het “uit volle bors” net twee strofes van “Die Stem” gesing en daar was mense wat die ou Suid-Afrikaanse vlag op hul T-hemde gedra het.

Baloyi sê hy het die protes bygewoon omdat die mense ’n “ware doelwit” het, maar ná die gebeure van die oggend is hy onseker of hy dit nog steun.

“Ek het in ’n stadium gewonder wat ek daar tussen die optoggangers maak.

“Die mense (wat die ou vlag op hul T-hemde gedra het) weet duidelik nie hoe pynlik apartheid vir my as ’n swart mens was nie.”

Daar was ook baie kritiek op sosiale media oor die swak taalgebruik van ’n memorandum wat aan Busi Modisakeng, burgemeester van Sedibeng, oorhandig is.

Die memorandum wemel van die spel- en taalfoute.

Sowat 3 000 mense het dit onderteken.

Hulle eis ook dat die memorandum aan die provinsiale kantoor van die polisie oorhandig word en in die parlement voorgelees word.

Luidens die memorandum eis die protesteerders dat die moord op boere gestaak moet word. Hulle eis ook van die polisie om wit mense veilig te laat voel in die land en dat alle haatmisdade teen wit mense moet ophou.

Van die organiseerders, wat nie hul name genoem wil hê nie uit vrees vir viktimisasie, sê hulle is almal lede van AfriForum, maar het op eie inisiatief alle paaie na die R59 gesluit.

Die organiseerders het aan Modisakeng gesê wit mense voel onveilig in Suid-Afrika. “Help ons om weer veilig te voel. Bring meer polisielede na ons woonbuurte,” vra hulle.

Hulle eis dat sy skriftelike antwoorde oor die polisie se planne binne sewe dae in die plaaslike koerant, Die Vaalweekblad, laat publiseer. “As ons nie binne sewe dae antwoorde kry nie, is ons oor twee weke weer terug. Dan gaan die protesaksie baie groter wees,” sê hulle.

Hulle eis ook dat die memorandum aan die provinsiale kantoor van die polisie oorhandig word en in die parlement voorgelees word.

“Ons stemme moet gehoor word en ons sal alles doen om dit te laat hoor,” lui die memorandum.

Die organiseerders van die protes sê hulle was bewus van die verregses wat hul optog bygewoon het en dat rassistiese uitsprake gemaak is.

Modisakeng het belowe sy sal haar bes doen om aan die mense se eise te voldoen.

Nadat een van die organiseerders die memorandum aan Modisakeng oorhandig het, het hy aan die mense gevra om “Die Stem” te sing. Hy het dit herhaal en gesê: “Ons sing ons 'Stem'.”

Die protesgangers het dit daarna uit volle bors gesing.

Sowat 3 000 mense het om 06:00 by die Redan-brug op die R59 bymekaar gekom en die pad met trekkers, vragmotors en ander voertuie versper.

Dié getal het teen 10:00 tot sowat 5 000 aangegroei.

Van die mense het later langs die pad begin vleisbraai. ’n Gesellige atmosfeer het geheers en in die agtergrond het boeremusiek gespeel.

Die organiseerders van die protes sê hulle was bewus van die verregses wat hul optog bygewoon het en dat rassistiese uitsprake gemaak is.

“Dit was nie die bedoeling van die aksie nie,” sê hulle.

Meer oor:  Midvaal  |  #Swartmaandag  |  Protes  |  Apartheid  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.