Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bathabile braak gal oor media en mans

Bathabile Dlamini, minister in die presidensie belas met vroue en kinders, is op die oorlogspad en het die media ’n agent van patriargie vir sy deelname in die “vernietiging” van vroue genoem.

Dlamini se opmerkings is Donderdagaand gemaak in die debat oor haar departement se begrotingsrede in die parlement waarin sy haar departement se doelwitte vir die jaar uiteengesit het.

Sy het haar toespraak gebruik om mond uit te spoel oor die “spervuur van aanvalle” wat sterk vroue, nou en in die verlede, verduur en omdat die media nie erkenning aan leiers soos die ontslape Albertina Sisulu en Winnie Madikizela-Mandela gee nie.

“Diegene wat nog staande is, staan omdat hulle staan vir dit waarin hulle glo. Sommiges was in staat om te staan sonder baanbrekers en die ondersteuning van die media.

Bathabile Dlamini Foto: Deaan Vivier

“Ongelukkig is selfs vrouejoernaliste aan die media se kant. As jy aan die kant van die media is, is jy ongelukkig aan die mans se kant, want hulle beheer dit,” het sy aan LP’s gesê.

Dlamini sê die media is “vaderregtelik en word meestal besit deur wit, konserwatiewe mans” wat hulself nog altyd gesien het as “die beste ding wat die wêreld nog gehad het”.

“Dit is dié instelling wat seker gemaak het dat vroue vernietig word. Dit is dikwels gebruik as ’n hamer deur patriargie om vroue te vernietig wat dit waag om haar kop sonder toestemming op te lig.

“Die instelling het histories sy hulpbronne gebruik om vroue te vernietig. Selfs swart en sogenaamde progressiewe mans en instellings wat veronderstel is om onafhanklik te wees en die regte van die kwesbares te beskerm, gebruik die storielyn en taal van die media om besluite te neem wat manlikheid dien.”

Konserwatiewe mans gebruik die media om “hul ego’s ’n hupstoot te gee”.

Sommige joernaliste het “besluit om voerbuise te wees van ’n vernietigende propaganda en het geen genade vir ’n dapper vegter soos die ontslape kameraad Winnie Madikizela-Mandela gehad nie”.

Haar opmerkings het applous by sommiges in die openbare galery en in die ANC-banke uitgelok.

Dlamini het gesê die media is nie besorg oor feite nie.

“Hulle het hulself onderhou met die woorde ‘na bewering’. Hulle hang mense op aan bewerings tot so ’n mate dat selfs die samelewing begin om die bewerings as die waarheid te aanvaar.

“Hulle herhaal die storielyn totdat jy in die hof van die openbare mening vervolg en skuldig bevind word. Ek glo nie dit is die demokrasie waarvoor mama (Albertina) Sisulu en mama Winnie Madikizela-Mandela baklei het nie.”

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Mans  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.