Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bathabile: ‘Ek is die sondebok gemaak’

Ofskoon sy nie ’n wrok koester omdat sy nie in die kabinet opgeneem is nie, het oudminister Bathabile Dlamini in haar bedankingsbrief as ANC-LP aangevoer dat sy die “sondebok” in die debakel oor die uitbetaling van maatskaplike toelae gemaak is.

Sy skryf dat “sommige se vroue” wins gemaak het uit die kontrak wat die regering met die maatskappy gehad het wat die toelae betaal het. Sy het ook beweringe teenoor sommige van haar oudkabinetskollegas gemaak.

Dié voormalige minister in die presidensie belas met vroue, asook die oudminister van maatskaplike ontwikkeling, het haar bedankingsbrief van agt bladsye gebruik om verskeie opmerkings oor die ANC en die debakel oor die uitbetaling van die maatskaplike toelae te maak.

Sy het onder meer geskryf dat die ANC se 54ste nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg baie lesse ingehou het.

“Die eerste les was dat die ANC nie gereed is om deur vroue gelei te word nie. Die tweede is dat sommiges in die ANC nie verstaan watter waarde vroueorganisasies toevoeg en (hul) bydrae tot ’n politieke party nie, hetsy dit ’n regse of linkse organisasie is.”

Bathabile Dlamini

Dlamini het ook baie ruimte in die brief afgestaan aan die debakel oor die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en Cash Paymaster Services (CPS) wat die maatskaplike toelae betaal het.

Sy het geskryf dat “sommiges se vroue” baat gevind het by die CPS-kontrak.

Sy wys daarop dat CPS werk vir die departement van maatskaplike ontwikkeling gedoen het toe sy die minister van maatskaplike ontwikkeling geword het.

“Ek het hulle daar gevind terwyl hulle reeds werk vir die departement gedoen het, maar wanneer mense praat, hoor jy dat ek iets met CPS te doen gehad het. Diegene wat wins gemaak het uit CPS deur hul vroue, is bekend, maar omdat hulle gerespekteer word deur die organisasie is niks aan hulle gesê nie. Ek is die sondebok en maklike teiken gemaak.”

Dlamini skryf dat oudminister Jeff Radebe, wat deur oudpres. Jacob Zuma aangestel is as voorsitter van die interministeriële komitee oor die uitbetaling van die maatskaplike toelaes, “die rol van die minister van maatskaplike ontwikkeling begin oorneem” het.

Niemand het volgens haar iets hieroor gesê nie en sy het stilgebly.

Sy wys daarop dat dit “skokkend” was dat sommige van haar oudkollegas in die interministeriële komitee voorgestel het dat die Poskantoor die uitbetaling van die maatskaplike toelae moes oorneem, terwyl hulle geweet het dat die Poskantoor nie die kapasiteit daarvoor het nie.

“Wat hulle gedoen het, was verraad,” lui Dlamini se brief.

“Hulle het geweet die Poskantoor sou nie vorder nie en dat mense outomaties na die banke sou gaan. Die eerste keer dat ek eintlik met minister Pravin Gordhan hieroor gekommunikeer het, het hy voorgestel dat ek almal behoort te bel en met die banke registreer en dit het vir my duidelik geword dat hy saam met die banke gewerk het. Toe Sassa ’n vergadering met die banke gehad het onder leierskap van (Cas) Coovadia, het dit baie duidelik geword dat die banke die betalings wou gehad het terwyl hulle nie gereed was met biometrika nie.”

Dlamini het ook daarop gewys dat “baie houdings” by die ANC ingesluip het en dat die party nie aandag gee daaraan nie.

Sy wonder ook oor pres. Cyril Ramaphosa se toekoms.

“ ’n Ander uitdaging wat ons het, is diegene wat dink hulle besit die president en die sekretaris-generaal. Dieselfde mense wat hieroor gekla het in die vorige leierskap herhaal dit nou en ek is nie seker of hulle dink dit is goed wanneer hulle dit doen nie.

“Dit is ook kommerwekkend dat dit lede van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) is wat met al die presidente baklei sedert pres. Nelson Mandela, pres. Thabo Mbeki en pres. Jacob Zuma. Ek wag om te sien wat hulle beplan om met die huidige leierskap te doen,” lui haar brief.

Sy koester “nie ’n wrok” omdat sy nie weer in die kabinet aangestel is nie. Wat haar diep ontstel, is die “gerugte en die geraas” oor haar. Sy glo dit is van iewers gedryf omdat sy baie naïef was om oor die uitbetaling van maatskaplike toelaes op ’n plaaslike vlak te praat.

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Bedanking  |  Parlementslede Bedank  |  Lp's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.