Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Bathabile swak getuie in Sassa-ondersoek’

Bathabile Dlamini, die vorige minister van maatskaplike ontwikkeling, was nie “ ’n bevredigende getuie nie”, sê oudhoofregter Bernard Ngoepe in ’n verslag aan die konstitusionele hof.

Hy moes namens dié hof ondersoek instel na of Dlamini finansieel aanspreeklik gehou moet word vir haar rol in die sage om die agentskap vir maatskaplike sekuriteit (Sassa), wat verantwoordelik is vir die uitbetaling van maatskaplike toelaes aan miljoene behoeftige Suid-Afrikaners.

Bathabile Dlamini. Foto: Deaan Vivier

Die konstitusionele hof het die oudhoofregter gevra om meer duidelikheid oor Dlamini se rol te verskaf omdat Dlamini en twee eertydse uitvoerende hoofde van Sassa, Thokozai Magwaza en Zane Dangor, se vroeëre getuienis voor dié hof weersprekend was.

Die oudhoofregter sê hoewel Dlamini baie gemaklik is in Engels, het sy verkies om in Zoeloe te getuig. Baie van haar antwoorde was volgens hom “om die minste te sê” allesbehalwe bevredigend.

Haar argumente was onoortuigend en moet verwerp word. Die minister het haar saak belemmer deur nie te onthul wat haar rol in die krisis was nie.

Ngoepe sê Dlamini het soms baie kort antwoorde op belangrike vrae verskaf deur te sê sy weet nie of dat sy nie kan onthou nie.

Ander vrae het sy nie geantwoord nie en sy het soms lang antwoorde verskaf wat niks met die vraag te make gehad het nie, sy was soms ontwykend en het van die vrae met teenvrae beantwoord.

Oudhoofregter Bernard Ngoepe. Foto: Samantha Simons

Die konstitusionele hof se opdrag was dat Ngoepe moes vasstel of Dlamini, wat ook president van die ANC-vroueliga is, persoonlik opdrag gegee het dat sogenaamde werkgroepe, wat parallel met Sassa gefunksioneer het, aangestel moes word.

Ngoepe moes ook vasstel of die werkgroepe regstreeks aan haar verslag moes doen.

Indien hulle wel aangestel is, moes Ngoepe onder meer vasstel wanneer dit gedoen is, en waarom sy dié feite nie verlede jaar aan die konstitusionele hof bekend gemaak het nie.

Ngoepe sê in sy verslag Dlamini het in ’n brief op 9 Januarie 2015 opdrag gegee aan Virginia Petersen, wat toe Sassa se uitvoerende hoof was, dat die sogenaamde werkgroepe aangestel word.

Dié werkgroepe moes Sassa help om die uitbetaling van die maatskaplike toelaes by Cash Paymaster Services (CPS) teen 31 Maart 2017 oor te neem.

Dlamini het selfs die name van vyf mense voorgestel wat dié groepe moes lei.

Hulle was almal lede van die ministeriële advieskomitee wat die instelling van die werkgroepe voorgestel het.

Uiteindelik is net drie komitees aangestel. Dlamini is gereeld op die hoogte van die komitees se werksaamhede gehou.

Getuienis is ook voorgelê dat Sassa se uitvoerende komitee van mening was dat die werkkomitees eerder aan die uitvoerende komitee as aan die minister verslag moes doen.

Dlamini hou vol sy het niks verkeerds gedoen nie.

Die oudhoofregter sluit sy verslag af deur te sê daar moet in ag geneem word dat die vrees om finansieel aanspreeklik gehou te word die rede kan wees waarom Dlamini nie antwoorde verskaf het op die hof se vrae nie.

Die hof het Dlamini en al die ander partye in die saak sewe dae gegee om op Ngoepe se verslag te reageer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.