Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
BBP-syfer: ‘Inperking het SA in die knie geskiet’

Die erge inkrimping van die Suid-Afrikaanse ekonomie in die tweede kwartaal is ’n bewys dat die nasionale staat van inperking weens die Covid-19-pandemie hopeloos te streng was, sê die DA.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Dinsdag bekend gemaak die kwartaalgroei van die bruto binnelandse produk (BBP) op ’n geannualiseerde grondslag was -51%.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, sê in ’n verklaring die inperking, wat een van strafstes in die wêreld was, het die Suid-Afrikaanse ekonomie in die knie geskiet.

Die gevolge sal nog baie jare gevoel word.

Hill-Lewis meen die enigste manier om die ekonomie reg te ruk, is deur verreikende ekonomiese hervorming.

As daar nie spoedig opgetree word nie, sal Suid-Afrika in die jare wat kom, al hoe meer by internasionale finansiële instellings om hulp moet gaan aanklop.

Daar is groot kommer oor die ekonomie wat in die tweede kwartaal op ’n geannualiseerde grondslag met 51% gekrimp het.Foto: Argief

Solidariteit deel die siening dat die inperking die land groot skade berokken het. “Met die grootste aangetekende inkrimping van enige ekonomie ter wêreld vir die tweede kwartaal van 2020 is dit duidelik dat die medisyne hier dodeliker as die siekte was.

“Dis waar dat die BBP dalk ’n lomp meting vir ’n land in isolasie is, maar wanneer ons uitskieterkwartaal met dié van ander lande vergelyk word, is dit duidelik dat ons een van die skadelikste, indien nie die heel skadelikste nie, inperkings ter wêreld gehad het,” het Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, in ’n verklaring gesê.

Hy sê Solidariteit doen ? beroep op die regering om die ekonomiese krisis, wat gaan vererger, ernstig op te neem en homself van die bestuur daarvan los te maak.

Die vakverbond Cosatu sê die werklikheid agter die syfers is dat armoede en werkloosheid aan die styg is.

“Die syfers bewys ons uitlating was reg dat pres. Cyril Ramaphosa se aanvanklike stimulusplan van R500 miljard onvoldoende was en ’n onderskatting van die ekonomiese gevaar wat die land in die gesig gestaar het,” het Cosatu in ’n verklaring gesê.

Covid-19 kon nie op ’n slegter tyd vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sy opwagting gemaak het nie.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR van finansies en ekonomiese geleenthede, sê dié provinsie sal die regruk van die ekonomie met dieselfde dringendheid takel as waarmee hy die pandemie getakel het.

Die IVP sê die jongste syfers dui daarop dat die huidige ekonomiese beleid nie die nodige stimulus kan bied nie. Die regering se gebrekkige vermoë om korrupsie behoorlik hok te slaan is ook ’n aanduiding van ’n gebroke stelsel.

“Ons sal weer moet dink hoe ons elke burger in die land aktief by die ekonomie betrokke kan maak,” sê Mzamo Buthelezi, ’n EFF-woordvoerder oor finansies.

Die Universiteit van die Witwatersrand se prof. Lawrence Hamilton, ’n kenner op die gebied van politiek en die ekonomie, sê daar sal eers oor ’n jaar of wat meer duidelikheid wees oor presies wat die invloed van dié groot daling op die ekonomie sal wees.

“Covid-19 kon nie op ’n slegter tyd vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sy opwagting gemaak het nie.”

Ons sal weer moet dink hoe ons elke burger in die land aktief by die ekonomie betrokke kan maak.

Hamilton glo wel as die huidige situasie gestabiliseer het, het die land se ekonomie die vermoë om te herstel.

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof van Agri SA, sê die landbousektor, wat 15,1% tot die BBP bygedra het, verdien ’n klop op die skouer.

“Dit vra vir groter waardering en ondersteuning van regeringskant af vir die bydrae wat dié sektor lewer midde-in al die uitdagings om bekostigbare, beskikbare en gehalte-voedsel vir die land te produseer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.